GEORGE NUUS EN VIDEO - Die 63-jarige Kobus Terblanche van Oudtshoorn, wat twee weke gelede met simptome van Covid-19 in die Mediclinic George opgeneem is, is verlede Donderdag, 9 April, ontslaan.
Hy is op Dinsdag 31 Maart opgeneem en is aanvanklik slegs gemonitor, maar sy toestand het versleg en hy is om 04:00 op Vrydagoggend, 3 April, in die hoësorgeenheid opgeneem en aan 'n ventilator gekoppel, volgens die hospitaalbestuurder, Kassie Karstens. Hy was tot Woensdag 8 April in die hoësorgeenheid.
Volgens dr. Antuan van Rooyen, een van die spesialiste wat hom behandel het, het Terblanche van die begin af 'n goeie kans op herstel gehad.
Dit is aangedui deur die telling wat hy gehad het in terme van 'n evaluasiestelsel wat op elke Covid-pasiënt in die Wes-Kaap toegepas word wanneer hulle in 'n hospitaal opgeneem word.
"Mnr. Terblanche is onder 65 en het geen ander siektes nie. Verder was Mediclinic gereed om hom reg te hanteer. Hy is baie vroeg op 'n ventilator gesit.
"Hy het ook nie akute respiratoriese noodsindroom (acute respiratory distress syndrome of ARDS) ontwikkel nie, maar slegs bakteriële longontsteking van sy linkerlong.
"Hy het dus 'n baie goeie kans op herstel gehad. Hy is reeds Maandag van die ventilator afgehaal," het Van Rooyen gesê.
Van Rooyen het verduidelik dat die nuwe koronavirus inflammasie in die longe veroorsaak wat daartoe lei dat water in die lugsakkies ophoop.
Kyk 'n video hieronder:
Volgens Van Rooyen was hierdie 'n goeie toetslopie vir Mediclinic. "Die hele Mediclinic het 'n goed uitgewerkte Covid-protokol in plek wat werk."
Terblanche was met sy ontslag nog onder isolasie. Sy buurman, Jacques Terblanche, wat gesê het die pasiënt is vir hom soos 'n eie pa, het hom in George kom haal en vir hom 'n gemaklike bed agterin sy bakkie gemaak.
'n Klompie van Mediclinic se personeel was daar om hul pasiënt af te sien.
'n Aangedane Kobus Terblanche het aan die George Herald gesê: "Dis 'n wonderwerk. Ek voel goed. Ek was op 'n stadium so siek dat ek deurmekaar was. Baie, baie dankie aan almal vir hulle gebede en vir almal by die hospitaal vir alles wat hulle gedoen het. Ek het uitstekende behandeling ontvang."
Teen Dinsdag 14 April was Terblanche die enigste Covid-19-pasiënt wat in George gehospitaliseer is.
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'