GEORGE NUUS - 'n Splinternuwe musikant in ons midde, JP Zeelie, het vroeër vanjaar twee nuwe enkelsnitte en 'n cd vrygestel. Beide sy enkelsnitte, Collide en Eye of the Storm is deur JP self geskryf.
Die musiek word beskryf as Nashville-styl, kontemporêre country-musiek. Beide enkelsnitte vorm deel van 'n CD, getiteld Close to You, wat bestaan uit vyf van die beste snitte uit sy arsenaal van moderne country-musiek.
JP kom oorspronklik van Pietersburg, maar noem deesdae Glentana sy huis. As vlieënier van beroep, het hy 'n paar maande gelede besluit om vir nou musiek sy prioriteit te maak, aangesien beide rigtings 'n bloeityd beleef.
"Ek het besef dat die twee bedrywe saam baie chaos veroorsaak en behoorlik bots, en besluit om eerder musiek my prioriteit te maak in hierdie seisoen van my lewe. Ek maak seker ek vlieg nog genoeg om my lisensie op datum te hou, maar musiek is waar ek nou my fokus plaas," het JP gesê.
George Herald het die nuweling 'n paar vrae gevra om hom beter te leer ken:
Wat bring jou na die Suid-Kaap?
Ek het in Augustus 2018 die trek na Oudtshoorn gemaak vir 'n werksgeleentheid in die vliegbedryf. Ek was ongeveer 18 maande daar en het meeste naweke oor die berg gery see se kant toe om die Tuinroete te beleef. Ek het dit nie geken nie, maar met 'n visstok in die hand het ek begin verken en dit uiteindelik begin huis noem in 2020.
Hoe vergelyk dit met jou grootworddorp?
Ek dink Pietersburg en George het iets in gemeen, albei gee 'n dorp gevoel. Ek is nie een vir stede nie so dis lekker om dit te beleef, asook die natuur rondom albei plekke. Die noorde is meer bosveld en die see natuurlik tropies van aard, maar albei is omring met hul eie natuurskoon en waardering. Ek dink wel die see is waar ek wil bly.
Jou songs is vol hoop – het jy liefde hier gevind?
Ek is dankbaar dat daar hoop in my liedjies ervaar word. Ek vertel nou die dag voor 'n gehoor hoe my grootste hoop is om te inspireer. Om deur musiek ander te inspireer om hul gawes uit te leef, wat ook al dit mag wees.
Ek het wel liefde in die Tuinroete gevind, maar sy bly vyf ure weg. Darem is ek nie bang vir reis nie.
Watter orkeslede kort jy nog?
Ek soek nog na 'n goeie baskitaarspeler wat saam met my in die Wes-Kaap kan optree. Ek wil graag 'n 3-stuk orkes bymekaar sit veral vir die groter verhoë. Vir nou is meeste van my optredes solo, maar 'n orkes is iets wat ek graag bymekaar wil sit. Ek het reeds 'n dromspeler en speel self kitaar, so dis net 'n baskitaarspeler wat kort.
As jy kon kies, waar sou jy wou optree?
Enige van ons groot feeste. Ek het vroeër die jaar by 'n fees opgetree en dis nogal 'n ervaring. Ek sal ook nogal by Atterbury-teater wil optree of Bokradio se Heroes-verhoog. JP bied verskeie vertonings in Desember, oor die hele Wes-Kaap.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'