GEORGE NUUS - Die Conville-buurtwag het oor die afgelope naweek 'n suksesvolle stop-en-deursoek-patrollie gehou met die bystand en samewerking van die sekuriteitsmaatskappye Fidelity Security en LVDS Security wat voertuie beskikbaar gestel het.
Volgens die buurtwagvoorsitter, Rudy Lewis, is arrestasies uitgevoer vir die besit van dwelms en gevaarlike wapens.
Die provinsiale en plaaslike verkeersafdelings is ook uitgeroep toe die patrollie 'n verdagte voertuig in Swawelstraat opgemerk het met geen nommerplate of 'n lisensieskyfie op nie.
"Ons gaan misdadigers vasvat. Ons wil dit nie meer verduur nie, maar wil die skuldiges agter tralies kry.
"Ons is besig om 'n hele verandering in ons gemeenskappe mee te bring waar ons almal veiliger kan rondbeweeg," sê Lewis.
"Ons vra die verskillende sekuriteitsmaatskappye om deel te word van die inisiatief. Ons wil dit uitrol van Conville na omringende gebiede ook.
"Baie dankie aan mnr. Wade Groves van Fidelity en mnr. Laurence van der Spuy van LVDS vir hulle deelname en die voertuie.
"Met voertuie kan ons groter areas dek en makliker rondbeweeg. Baie dankie aan konst. Daniël Esau vir sy teenwoordigheid. Almal wat gehelp het, het bygedra tot 'n baie suksesvolle operasie."
Die buurtwag benodig items soos handradio's en flitse wat hulle taak vergemaklik.
Lewis het 'n beroep op besighede gedoen om sulke items te borg en hy vra meer mense uit die gemeenskap om aktief betrokke te raak by die buurtwag.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'