GEORGE NUUS - 'n Groot gees van George se stem is nou stil. Byron Smith (75) het verlede week op 12 Januarie weens Covid-19-komplikasies in Mediclinic George gesterf.
Deur sy besigheid van die afgelope 46 jaar, Outeniqua Roofing & Pest Control, asook sy betrokkenheid by die gemeenskap met liefdadigheidsprojekte en fondsinsamelings, het Byron vele mense bereik.
Sharon Coetzee, Byron se tweede oudste dogter, het sy kliënte bedank vir hul volgehoue ondersteuning oor die jare: "Die besigheid gaan voort, alhoewel my pa nie meer daar is nie. Sy diens en hoë standaarde sal voortleef."
Byron se oudste dogter, Ronelle Wright, onthou haar pa as 'n bobaas storieverteller en 'n poetsbakker: "Hy was joviaal en sy liefde vir mense het uit hom uitgestraal. Hy was een van daardie mense wat jy nooit sal vergeet nadat jy hom ontmoet het nie."
Byron was vir jare 'n ATKV-voorsitter en het graag in Hartenbos gaan kamp. Hy was ook 'n lid van die oumotorklub en 'n kranige oumotor-entoesias wat self oor die jare verskeie klassieke motors besit het.
"Pa het leerders van verskeie skole met sy voertuie na hul matriekafskeidaand gery. Dit was vir hom heerlik om te gee en om mense gelukkig te maak," het Ronelle gesê.
Byron het destyds ook 'n bestuurskool op die been gebring, Outeniqua Driving School, wat hy vir jare bedryf het. As instrukteur het hy leerlingbestuurders met 'n Volkswagen Kewer leer bestuur.
"Die Kewer het twee stuurwiele gehad sodat hy vanuit die passasiersitplek kon ingryp indien nodig. Hy het dit spesiaal so laat maak," het Ronelle gesê.
"Saans het pa vir vele voornemende bestuurders wat nie rylesse kon bekostig nie, tuis opgelei. Baie van hulle kon nie lees of skryf nie.
"Hy het 'n model gebou met klein padtekens en paaie, en so gehelp dat hulle 'n mondelinge eksamen kon aflê. Dis die tipe mens wat hy was."
Smith word oorleef deur sy vrou, Renette, hul vier kinders Ronelle, Sharon, Teresa en Byron, asook vier kleinkinders. Die familie het hul dank teenoor hul vriende uitgespreek vir hul gebede in hierdie moeilike tyd, sowel as die hulp en bystand van die personeel en dokters van Mediclinic George.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'