GEORGE NUUS - ACVV George se Byekorf-dienssentrum op die hoek van Victoria- en Meadestraat het gewis die regte naam, want dit is omtrent 'n byekorf van bedrywighede.
En as jy, of jou eggenote, 60 jaar of ouer is, kan jy deel word van die Byekorf en baat by die ongelooflike dienste wat die sentrum lewer.
Vir 'n lidmaatskapfooi van net R10 per maand kan Georgiete bo 60, asook mense met gestremdhede, elke weeksdag sakpas middagetes geniet, van die goedkoop haarsalon gebruik maak, gesellige bingo en Rummikub-sessies bywoon en uitstappies meemaak.
Lede kan ook hulle naels en voete by die salon laat versorg. Die sentrum het sy eie biblioteek en kliniek en verder word goedkoop vervoer ook vir lede gereël.
Middagetes word tuis afgelewer aan lede wat nie by die dienssentrum hulle ete kan gaan eet nie. Die sentrum, wat 32 jaar gelede in 1987 gestig is, bied ook selfsorgbehuising vir bejaardes.
Byekorf streef om vir alle ouer en gestremde persone ondersteuning te bied sodat daar in hulle fisiese, emosionele, intellektuele en geestelike behoeftes voorsien word om hulle selfstandig te laat funksioneer. Byekorf is 'n toonbeeld van hoe ACVV George hulle organisasie se waardes van deernis, menswaardigheid, integriteit, uitnemendheid en verantwoorbaarheid op 'n daaglikse basis uitleef.
Vrywilligers nodig
Die ACVV se dienssentrum is 'n nie-winsgewende organisasie en is afhanklik van vrywilligers, want sonder vrywilligers kan die sentrum nie funksioneer nie. Die sentrum is ook afhanklik van die welwillendheid en finansiële steun van die publiek en borge - geen skenkingsbedrag is te klein of te groot nie en dit maak nie saak of dit 'n eenmalige of herhalende bedrag is nie.
Persone wat lede van die Byekorf wil word of wil betrokke raak, kan Louise King skakel by 044 874 5937/8.
Of gaan loer in - die sentrum is weeksdae van 07:30 tot 13:30 oop.
Ronald Reagan het gesê: "Niemand kan almal help nie, maar almal kan iemand help."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'