‘n Rekordgetal van 31 studente het Vrydagaand tydens ‘n spoggeleentheid by Down to Earth toekennings ontvang. Sewentien studente het die Sertifikaat in Bediening na twee jaar se studie ontvang; 13 studente het die Diploma in Kerkleierskap na vier jaar studie ontvang en een B Min-graad is aan Irvin-John Scheepers toegeken. Die Bybelskool is reeds 11 jaar in bedryf en het tans 101 studente in George en 19 studente op Rheenendal.
Nuwe kursus in pastorale sorg
By die toekenningsgeleentheid het die hoof van Didasko, Willem Botha, aangekondig dat die Bybelskool, benewens die huidige CLT-programme ook vanaf Februarie 2011 as ‘n tutorsentrum vir die Sentrum vir Kontekstualiteit van die Universiteit van Pretoria gaan optree. Dit gaan mense wat belangstel in voortgesette teo-logiese opleiding in staat stel om nou ook plaaslik die toerusting te ontvang.
Die eerste proeflopie is ‘n basiese jaarkursus in pastorale sorg en is gerig op gemeenteleiers wat nog nie gematrikuleer het nie en vrywilligers wat by pastorale sorg en berading betrokke is. Twee weeklange kontaksessies sal in Februarie en Julie aangebied word.
Verander een lewe
Die Bybelskoolstudente het deur middel van Bybelbussies ook vanjaar ‘n rekord-bedrag van R10 000 vir die Bybelgenootskap van Suid-Afrika ingesamel. "Dit voorsien in ‘n groot nood, maar is dit al wat ons
moet en kan doen?" vra Botha. "Ons moedig die studente aan om by hulle eie gemeentes in projekte betrokke te raak, maar is dit genoeg om die studente net akademies vir die lewe voor te berei? Ons gaan in 2011 ons hande uitsteek en daadwerklik iets prakties doen om die wêreld te verander - al is dit net vir een of ‘n paar mense op ‘n keer."
Wil skole help
Didasko beoog om fondse in te samel vir ‘n skool sonder klaskamers en die bouprojek ook te bestuur. "Die Bybelskool was bevoorreg om in Januarie vanjaar in ’n nuwe, doelmatige lesinglokaal in Fairview-kantoorpark in te trek. Ons is so dankbaar oor hierdie fasiliteit dat dit die gebrekkige toestande by van ons skole beklemtoon - ons wil ‘n verskil maak," sê Botha.
‘n Gewilde program, die Bybel boek-vir-boek in een jaar, word weer in 2011 op Dinsdagaande of Woensdagoggende aan-gebied, terwyl eerstejaarstudente volgende jaar op Maandagoggend of -aand klasse kan bywoon.
Hoewel die Bybelskool aan die "gewone" Christen die geleentheid bied om krediete op te bou vir ‘n sertifikaat of diploma, woon byna die helfte van die studente die kursusse by sonder om eksamen te skryf, net vir persoonlike verryking.
Enige navrae oor die Bybelskool kan gerig word aan Willem Botha by telefoon 083 338 0389. Navrae oor die kursus in Pastorale Sorg kan gerig word aan Johan Mostert by 082 852 5499.
.jpg)
Na vier jaar se studie het hierdie studente hulle Diplomas in Kerkleierskap by die Didasko Bybelskool ontvang. Agter: Pieter Raath, Johannes Mowers, Jacques van der Merwe, Herman Pienaar, Pierre Landman en Johan Snyman. Voor: Willem Botha (hoof), Juanita Myburgh, Amanda Mowers, Lynette Neethling, Desire Roos, David Solomons, Betsie Landman en Marcelle Pretorius.
.jpg)
Die ontvangers van die Sertifikaat in Bediening by die Didasko Bybelskool is, agter: Peter Arendze, Bets Fourie, Lianda Oosthuizen, Jannes Steenkamp, Shaun Neuhoff en André Prinsloo. Voor: Willem Botha (hoof), Maryna Smit, Desire Roos, Amanda van Dyk, Hannetjie Groenewald, Martjie Liebenberg en Lyndon Spies. (Afwesig: Charlotte Esmeyer, Helga Ely, Ruan Venter, Estelle Prinsloo en Andrienne le Crus).