GEORGE NUUS - 'n Geliefde pastoor van Family Worship Ministries en steunpilaar in die Touwsranten-gemeenskap het op 26 Desember weens Covid-19 gesterf.
Cedrick Buys (48) se naam is sinoniem aan die Sewe Passe Inisiatief waardeur hy die lewens van talle jong mense en kinders in die Touwsranten omgewing geraak het.
In ‘n dubbel-tragedie het Cedrick se broer, Anthony Buys (46), ‘n uur voor Cedrick aan Covid-19 gesterf.
Beide broers is in George-hospitaal behandel.
Hierdie verlies volg bykans ‘n maand nadat Anthony Buys se seun, Andy Buys (16), op 28 November in ‘n motorongeluk gesterf het. Anthony en Andy was saam ten tye van die ongeluk.
Cedrick se vrou, Jacqui Buys, en Anthony Buys se vrou, Elsie Buys, is verpletter oor die nuus van hul mans se afsterwe. “Cedrick was so spesiaal en liefdevol, ‘n mense-mens en hy wou net help,” het Jacqui gesê.
Cedrick se dogter, Cheridene Buys, het gesê haar pa was ‘n regte gesinsman: “Hy het nog tot hy in die hospitaal was geworry oor ons by die huis. Hy was my steunpilaar, my rolmodel en my pa. Hy het my werk toe gery en gaan haal. Ons het ‘n close verhouding gehad. Hy het al sy kinders op ‘n stadium gebel om net vir ons te sê hy is lief vir ons.”
Cedrick word oorleef deur sy vrou, een dogter, twee seuns en twee kleinkinders.
Anthony Buys se dogter, Toni Buys, het namens haar gesin ‘n paar woorde gesê: “My pa was altyd vriendelik en behulpsaam. Ons gaan hom baie, baie, baie mis. Ons kan dit nog nie heeltemal glo dat hy weg is nie, ons rou nog oor my broer se dood.”
Anthony word oorleef deur een seun, vier dogters en ‘n kleinseun.
PBI-raadslid Patrick Buys het beide sy neefs verloor. “Ons het saam grootgeword, ons was soos broers. Dit was ‘n leeftyd van vriendskap. Ek gaan hulle baie, baie mis,” het hy gesê. “Hulle het so ‘n passie vir die gemeenskap gehad.” Volgens Buys word ‘n gedenkdiens en begrafnis vir volgende week beplan.
Medelye
Cedrick Buys het graag inskrywings op facebook gedeel. Hy het tydens sy hospitalisering sy vriende en geliefdes voortdurend oor sy toestand ingelig. Op 19 Desember, ‘n week voor sy dood, vra Cedric om hulp van die gemeenskap met die volgende: “Reel n vas en bid dag vir my dr se my liggaam sukkel om saam te werk dit maak als moeilik en Hulle kan niks doen nie Cedrick Buys”.
Tydens sy siektetoestand en nou, na sy dood, stroom die medelye op Facebook in. Die verskeidenheid van inskrywings van mense vanuit uiteenlopende gemeenskappe is ‘n goeie maatstaf van die invloed wat Cedric op diegene gehad het, met wie hy in aanraking gekom het.
Anne Henn: “My hart is seer oor jou. Het nie woorde nie. Nie nou nie.....”
Joyce Kimari: “It's with great shock hearing of your passing to the other side. Your work on earth is done. See you on the other side dear friend .I will surely miss you.”
Willie de Kock: “Ek sal Cedric onthou vir die dringendheid waarmee hy die evangelie verkondig het. Altyd nóg 'n uitreik, nóg 'n deurnag gebed in Touwsranten. Asof hy haastig was, dat die tyd verbygaan en ons nie 'n kans moet mis om die boodskap van verlossing uit te kry by die verlorenes nie. Ons kan leer uit sy voorbeeld.”
Willem Botha: “Ek het het Cedric leer ken kort na die ontstaan van die Didasko Bybelskool in 2 000, toe hy ingeskryf het as van die eerste studente. Dit was ‘n besondere paar groepe aan die begin, wat gesê het dat die tyd te kort was om 5 jaar te studeur vir die Nasionale Sertifikaat en Diploma in Kerkleierskap. Hulle sal alles inpak in 3 jaar, asseblief. En hulle het! Twee/drie klasse per week, terwyl hulle voltyds gewerk en bedien het. Dit was ook tipies van Cedric se bediening. Touwsranten en omgewing het braak gelê en hy sou hier onverpoost arbei. Met werk soos die Sewe Passe Inisiatief sou hy ‘n steunpilaar in sy gemeenskap word.”
Anthony Buys
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'