GEORGE NUUS - Die Conville- en Pacaltsdorp-buurtwagte het die afgelope naweek 'n suksesvolle gesamentlike patrollie van stapel gestuur waartydens dagga, tik en wapens gekonfiskeer is.
Rudy Lewis, voorsitter van die Conville-buurtwag, het gesê in die komende vakansieseisoen gaan hulle baie aktief wees.
"Ons gaan onder geen omstandighede misdaad toelaat nie. Saam met die gemeenskap gaan ons dit hokslaan. Negatiwiteit in sekere geledere sal ons nie ontmoedig nie.
"Ons gaan voort om die gemeenskap se veiligheid 'n prioriteit te maak."
Hy het 'n beroep gedoen op ander buurtwagte in die Borcherds-, Blanco- en Thembalethu-areas om deel te neem aan hulle gesamentlike operasies wat hulle beoog om volgende jaar uit te brei.
"Baie dankie aan LVDS Security vir hulle bystand en dat hulle ook die veiligheid van ons gemeenskap 'n prioriteit maak in hul maatskappy. Benjamin Swartbooi van LVDS se bystand met die afgelope patrollie word waardeer.
"Die buurtwag benodig flitse, stewels en handradio's om ons te help om ons taak uit te voer en ons sal baie dankbaar wees as daar donateurs is wat bereid is om ons op hierdie manier te help," het Lewis gesê.
Persone of besighede wat kan help, kan hom bel by 061 977 6098.
Van die buurtwaglede wat in die gesamentlike operasie gehelp het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'