GEORGE NUUS - 'n Kerk wat vir ongeveer 'n jaar lank reeds onwettig dienste hou in 'n tent op 'n residensiële erf by Noordstraat 30, Pacaltsdorp, sal binnekort finaal kennis gegee word om af te slaan en te trek.
'n Interdik is verlede week in die Thembalethu-hof uitgereik teen Joel Togba, leier van die Christ Dominion City-gemeente, in terme van die munisipale grondgebruikregulasies.
Dit volg op 'n uitgerekte proses waartydens die George-munisipaliteit eers probeer vasstel het wie die wettige eienaar van die grond is, voordat 'n kennisgewing in April verlede jaar op die pastoor gedien kon word. Togba het ten spyte van die kennisgewing met kerkbedrywighede voortgegaan, hoewel dienste na die erf afgesny is.
Die kerk het van 'n kragopwekker en opslaantoilet gebruik gemaak.
Die hofinterdik beveel Togba om binne 20 dae vanaf die uitreiking daarvan op Woensdag 6 Februarie die kerk af te breek en die perseel te verlaat. Volgens Dirk Goussard, wat in opdrag van die munisipaliteit optree, is die grond nie vir kerkdoeleindes gesoneer nie.
'n Buurman, Edmond van der Berg, het gesê hulle is verlig.
"Die kerk hou nie net op Sondae dienste nie, maar het ook byeenkomste gedurende die week.
"Dit is uiters steurend aangesien hulle 'n kragopwekker gebruik."
Togba het by meer as een geleentheid in die verlede te kenne gegee dat hy nie kommentaar wil lewer oor die situasie nie.
Sy prokureur is om kommentaar genader, maar het nie voor saktyd geantwoord nie.
Die tent waarin Christ Dominion City kerk hou. Foto's: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'