GEORGE NUUS - Wat, wie, ek? Dit was Brümilda Swartbooi se eerste reaksie toe sy onlangs aangewys is as die Standard Bank Sikuvile 2020 Up and Coming Rising Star of the Year.
Sy vertel sy het ingeskryf vir 'n nuuskategorie, wat toe gekom en gegaan het. Swartbooi het toe vrede gemaak dat sy nie gewen het nie en dalk weer volgende jaar sal probeer.
"Maar toe laat weet hulle my my kategorie is volgende en ek moet gereed wees en inskakel, want hulle gaan my deurskakel. Ek kon dit nie glo toe hulle my naam as wenner noem nie. My mond het oopgeval."
Sy sê dit is weereens 'n bewys dat 'n kind van Parkdene in George ook groot kan droom en ver kan gaan in die beroep. Swartbooi, wat in 2017 as jong joernalis by George Herald begin werk het, sê sy kan die stories wat sy ingeskryf het se onderhoude, baie goed onthou.
Een van die stories was van 'n tannie wat vermoor is kort na haar man haar by die werk afgelaai het. Sy vertel die vrou se seun was tydens die onderhoud so hartseer dat sy as skrywer self nie die trane kon keer nie. Die ander storie was weer oor 'n swart bemagtigingsplaas.
Sy sê die eienaar het haar aan 'n lyntjie gehou, en na drie weke het sy hom self gaan sien na hy nie op navrae wou reageer nie.
"Ek het baie goeie terugvoering by die beoordelaar gekry oor die stories. Die eerste was dat ek 'n ander hoek vir die moordstorie gekry het behalwe die gewone en die ander terugvoering was dat hulle kon sien ek het uithouvermoë omdat ek aanhou probeer het om antwoorde te kry."
Swartbooi vertel dit het ook vir die beoordelaar uitgestaan dat sy dapper genoeg was om by haar storie te voeg, dat hy haar basies gedreig het om blykbaar nie leuens te versprei oor die plaas nie.
Haar mening was dat die werkers net antwoorde gesoek het, en dat sy kommentaar aan haar hulle die volle prentjie geskets het.
Sy sê al is sy alleen op die paadjie wat sy nou stap, voorheen op Worcester en nou in Johannesburg, het sy baie goeie vriende leer ken wat nou amper soos familie is. Swartbooi sê dis steeds wonderlik vir haar om te sien hoe haar loopbaan ontwikkel het.
"Ek het in 2017 as 'n jong joernalis by George Herald aangesluit. Met die ondersteuning van mense soos Lizette da Silva en Myron Rabinowitz het ek baie geleer. Nou kan ek groot stories aanpak en dit sterk skryf, wat ek nie toe kon doen nie."
Sy sê sy het ook baie mentors op haar pad ontmoet sonder wie se ondersteuning sy nie as mens en skrywer sou groei nie. Swartbooi sê sy is regtig oorval met boodskappe van oudonderwysers, vriende, familie en oudkollegas wat gesê het hoe trots hulle is.
"Ek is so dankbaar vir al die boodskappe en dit beteken die wêreld vir my. Die liefde van almal wat tyd geneem het om 'n boodskap te stuur beteken so baie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'