GEORGE NUUS - 'n Oudbevelvoerder van die SAPD-lugvleuel, brigadier Janna van der Colff van Blanco, is skielik op Sondag 26 November in die ouderdom van 57 aan 'n hartaanval oorlede.
Van der Colff was in beheer van alle helikopters tydens die 2010 Wêreldbekersokker.
'n Verbyvlug ter ere aan hom is Maandag deur die SAPD-lugvleuel by Wonderboom in Pretoria gehou.
Hy het in Julie 2011 afgetree ná 'n ryk loopbaan van 33 jaar in die polisie.
Van der Colff was die Blanco NG gemeente se hoof van sending en uitreiking in die gemeenskap.
Volgens een van die gemeenteleraars, ds. Francois Mulder was Van der Colff 'n geliefde persoon in die gemeente en gemeenskap.
"Hy was 'n Jesus-volgeling, vriend, bemoediger, uitreiker, sagmoedige reus, gemeenteleier, eggenoot, pa en oupa na wie almal opgesien het."
Hy laat sy vrou Bettie, skoonseun en dogter Estiaan en Sonja Botha, nog 'n skoonseun en dogter, Wikus en Illanza Kruger, en twee kleinkinders, Keanan en Noah agter.
'n Dankdiens word vandag, Donderdag 30 November om 11:00 vanuit die Blanco NG kerk gehou.
Van der Colff was die Blanco NG gemeente se hoof van sending en uitreiking in die gemeenskap. Hier is hy saam met sy vrou, Bettie.
ARTIKEL: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'