GEORGE NUUS - Die George Herald het betroubaar verneem dat Trevor Botha, die munisipale bestuurder en Steven Erasmus, direkteur beskermingsdienste, Maandag weer terug op kantoor sal wees.
Dit volg na die onafhanklike dissiplineraad - wat deur die stadsraad aangestel is om ondersoek in te stel na Botha en Erasmus - bevind het dat daar geen gronde vir die klagtes teen hulle is nie.
Botha en Erasmus is op 15 November tydens 'n buitengewone stadsraadsvergadering voorlopig vir 60 dae geskors. Dit het gekom na 'n DA-raadslid klagtes oor beweringe van finansiële wangedrag en/of oortredinge van die dissiplinêre kode teen hulle ingedien het.
Die tugkomitee se verslag is gister tydens die maandelikse stadsraadsvergadering agter geslote deure bespreek.
Die dissiplineraad is 'n paar jaar gelede deur die raad in die lewe geroep en funksioneer onafhanklik om sulke aangeleenthede te ondersoek.
Gerrit Pretorius, speaker van die stadsraad, het vroeg Vrydagmiddag by navraag aan die George Herald gesê die dissiplinêreraad het bevind daar is geen gronde vir Botha en Erasmus se voorlopige skorsing nie. Hulle sou in die loop van Vrydag ingelig word oor die bevindinge van die dissiplineraad.
Botha was nie vir kommentaar beskibaar nie.
Lees 'n vorige artikel: Geen gronde vir klagtes teen Botha en Erasmus
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'