TUINROETE NUUS - Borgtog van R5 000 elk is Donderdag in die Oudtshoorn-landdroshof aan die twee verdagtes van Thembalethu, George, toegestaan na hulle glo pakkies Mandrax-tablette by hul motorvenster uitgegooi het toe die polisie hul motor agtervolg het.
Mbalelo Aseni (33) en Zamwxolo Nyama (35) word van handel in dwelms aangekla.
Lede van die polisie se landelike blits-patrollie het op Vrydag 27 Augustus tydens 'n patrollie op die N2, 'n Mercedes-Benz onderweg na Oudtshoorn agtervolg en van die pad getrek.
Die polisie het tydens die deursoeking van die voertuig op 1 579 Mandrax-tablette, met 'n straatwaarde van R125 000, asook 92 gr. tik van meer as R35 000 beslag gelê.
Die staatsaanklaer Zelda Jass, het nie borgtog teengestaan nie. Landdros Stephanie Strydom het borgtog aan die twee verdagtes toegestaan op voorwaarde dat hulle elke dag by die Thembalethu-polisiestasie aanmeld en nie by verdere misdaad betrokke raak nie.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 9 November uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'