Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Presies 'n jaar nadat een van George se bekendste inwoners, Gideon de Swardt, oorlede is, is 'n boom in die Tuinroete Botaniese Tuin geplant ter nagedagtenis van sy vol lewe. Die boom, 'n Ficus sur, is deur sy geliefdes by 'n piekniekplek diep in die bosse geplant.
Die boomplanting vorm deel van 'n projek van die botaniese tuin wat mense toelaat - en inderdaad aanmoedig - om bome ter nagedagtenis van hul geliefdes in die tuin te plant. Die tuin verskaf die boom en kompos. Die koste beloop R150.
Elsjè Potgieter, een van De Swardt se dogters, het aan die George Herald vertel dat die familie besluit het om die boom presies 'n jaar na sy dood op 13 Desember 2017 te plant, omdat hy so lief vir die natuur was. In George het hy 'n baie mooi tuin gehad.
Voordat hy verlede jaar op 80-jarige ouerdom aan kanker oorlede is, het De Swardt 'n lang pad geloop. Sy pa is destyds op vroeë ouderdom oorlede en die jong Gideon moes uitspring en vir die familie sorg. In sy lewe was hy onder meer stoker op 'n trein en 'n meubelmaker voordat hy genoeg geld bymekaar gemaak het om self 'n plaas te kon koop.
Dit is waar al sy sakebelange begin het. Hy was onder meer die stiger van De Swardt-vervoer in George. Hy was ook in die konstruksiebedryf en grondverskuiwingsbedryf betrokke. Benewens sy sakebelange was De Swardt altyd by die gemeenskap betrokke.
Volgens Potgieter was haar pa baie godsdienstig en al was hy 'n groot sakeman, was hy baie nederig. Tot met sy dood verlede jaar het hy voluit gelewe.
Hy het nog drie ander kinders, Hennie de Swardt, Koekie Rademan en Deon de Swardt, asook 10 kleinkinders en een agterkleinkind.
"Met die plant van die boom word verewig wat nie meer daar is nie," het Potgieter gesê. In die lig van die verwaarlosing wat vandag in begraafplase die botoon voer, is dit wonderlik om so 'n boom op so 'n plek te kan plant.
"Dit is by 'n piekniekplek. Enigiemand kan onder my pa se boom kom sit. Hy was verskriklik lief vir die natuur. Hoe kan daar 'n meer perfekte plek wees om iemand vir altyd te onthou, as by 'n piekniekplek in die Botaniese Tuin in George?"
Kyk 'n video hieronder.
Wonderlike geleentheid
Finn Rautenbach, bestuurder van die Tuinroete Botaniese Tuin, het gesê dit is 'n wonderlike geleentheid vir mense om 'n boom te kan plant ter nagedagtenis van hul geliefdes. "Ons moedig mense regtig aan om dit te doen. Dit is 'n baie mooi wyse om iemand se lewe te eer."
Die bome wat verskaf word is inheems. Die plant van die bome is 'n diens aan die gemeenskap, sê Rautenbach. "Ons is gemeenskapstuin." Volgens hom is dit reeds redelik gewild, maar die bestuur sal graag wil sien dat meer mense van die diens gebruik maak.
Gedenkplaatjies word nie normaalweg by die bome toegelaat nie, maar in die in die geval van die Potgieters is besluit om dit toe te laat omdat die familie onderneem het om die piekniekplek te borg.
Mense wat 'n boom vir hul geliefdes wil plant, word gevra om die botaniese tuin twee weke voor die tyd te kontak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'