GEORGE NUUS - Herold-polisie en dié gebied se gemeenskaps-polisiëringsforum, het op Woensdag 20 Oktober hul Boom van Hoop-inisiatief saam met die departemente van maatskaplike dienste, korrektiewe dienste, onderwys en die departement van bosbou en visserye van stapel gestuur.
Dié inisiatief deur sers. Wendy Lee, spruit uit 'n vrouedag van drie jaar gelede waar vroue die tema gehad het van hoop en elke vrou het haar boodskap van hoop aan 'n handgemaakte boom gehang en dié spesifieke inisiatief het vroue se lewens verander.
Volgens Lee gaan die kinders in hul gebied gebukkend onder geweldige uitdagings soos gesinsgeweld, dwelm- en drankprobleme, afknouing, seksuele misdrywe en verwaarlosing.
Juis hieroor het sy besluit om die Boom van Hoop-inisiatief by al ses skole in die gebied te begin.
Die bome wat deur die kinders gemaak is.
"Leerders vanaf graad vier tot nege is uitgedaag om 'n boom te maak en hul eie boodskappe van hoop daarop te sit. Dié boom stel ons in staat om te bepaal waarmee die kinders worstel en in samewerking met ander departemente kan ons die kinders hoop gee en verseker dat ons saam met hulle staan," sê sy.
Die doel is om programme te begin om die jongmense van die gebied se uitdagings te verhoed en die misdrywe aan te spreek.
Laerskool Herold, Franken Primêr en Laerskool Dieprivier het die bekend-stellingsgeleentheid bygewoon.
Elke skool het hul boom van hoop saamgebring en elke skool is die geleentheid gebied om te verduidelik wat die boom vir hul as leerders beteken.
Leerders wat die bekendstelling verlede Woensdag, 20 Oktober, in Herold, bygewoon het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'