GEORGE NUUS - So amper was Sean Snyman, die nuwe speaker van die George-stadsraad, nie by Maandagmiddag, 22 November, se inhuldigings-vergadering nie. Die erf waarop sy huis is, het vroegoggend oorstroom as gevolg van die swaar reën.
Snyman, 'n DA-lid, het Dinsdag aan George Herald vertel van die dag wat hy nooit sal vergeet nie. Hy is Maandag tydens die inhuldigingsvergadering van raadslede verkies nadat hy Donovan Saptoe van Good in 'n stemming verslaan het.
Die 57-jarige Snyman se pad na die speaker se pos kom 'n lang pad. Hy kom oorspronklik van Gauteng en het hom agt jaar gelede in George gevestig. Snyman was 13 jaar gelede in 'n ernstige motorongeluk in Gauteng en het amper sy lewe verloor.
Hy is bekend as 'n groot kampvegter vir mense met gestremdhede en 'n aktivis wat hom beywer dat mense met gestremdhede oral toegang moet kan kry. Sy liefde vir diere is ook geen geheim nie.
Volgens Snyman het hy in die DA aansoek gedoen om as kandidaat oorweeg te word vir die speakerspos. "Dit was een van my grootste wense om speaker te word."
George-speaker Sean Snyman (links), in gesprek met PBI-raadslid Virgill Gericke oor die ordereëls van die raad. Die gesprek het in goeie gees verloop.
Foto: Michelle Pienaar
Toe hy uiteindelik Maandag-middag verkies is, was dit 'n groot verrassing. "Ek het werklik nie gedink dit sal gebeur nie."
Hy is iemand wat glo aan dissipline en regverdigheid, "Ek wil George as 'n geheel dien. Dit gaan nie vir my oor iemand se politieke oortuigings nie. Ek wil mense help."
Oor die drama wat hom vroeg Maandagoggend by die Snyman-huishouding afgespeel het, het hy vertel dat hy kort voor 06:00 wakker geword het van 'n harde slag van die weer. 'n Halfuur later was sy erf onder water en dit het kort voor die voordeur van sy huis gestop. Hy het ingespring en onder meer sy motor uit die erf verwyder.
Intussen moes hy gereed maak vir die stadsraadsvergadering wat om 10:00 sou begin. Dit is gelukkig uitgestel na 12:00.
Sean Snyman se oorstroomde erf vroeg Maandagoggend.
Met 'n sak waarin sy werksklere was, het hy in 'n kortbroek en kaalvoete by die munisipale kantore opgedaag. Daar het hy sy werksklere vir die vergadering aangetrek.
Snyman het gesê Maandag is 'n dag wat hy nooit sal vergeet nie. "My pa, Johan wat 22 jaar gelede oorlede is, sou ook baie trots gewees het.
"My hart gaan ook uit na al die mense wat skade gely het as gevolg van die oorstromings."
Sean Snyman as speaker van die George-raad, net na sy inhuldiging. Foto: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'