GEORGE NUUS - Die mooiste blomme van allerhande soorte, versier altyd Yorkstraat in George. Dit is so ’n plesier en vreugde om soontoe te gaan en na al die kleurvolle blomme te kyk.
Suraya Cassien en Amanda is elke dag daar van 07:00 tot 18:00 sewe dae ’n week om die gemeenskap te omvou met hul mooi blomme wat enige geleentheid spesiaal maak.
Suraya het die blommestalletjie vir 25 jaar en Amanda is saam met haar vir 20 jaar en saam gee hulle liefde aan die gemeenskap deur die blomme wat hulle verkoop.
Suraya wil almal bedank wat haar so getrou ondersteun het deur die jare en veral in die gendeltyd van Covid-19. Dit was ’n moeilike tyd vir haar om nie by haar stalletjie te wees vir drie maande nie, maar die positiewe, omgee ondersteuning van die gemeenskap op Moedersdag het haar stomgeslaan.
Sy het nog nooit so iets uit die gemeenskap beleef en liefde van die mense in George nie. Dit was die beste ervaring wat sy nog ooit in haar lewe gehad het.
Moedersdag was die eerste dag wat sy weer na die drie maande oop was en is baie dankbaar vir die liefde van die gemeenskap.
Die blommestalletjie is weer lewendig gemaak, Suraya kyk nou met ander oë na die gemeenskap van George wat hul harte vir haar en Amanda oopgemaak het.
Hierdie twee vroue, Suraya en Amanda is elke dag in die wind, reën en son by die blommestalletjie. Die weer maak nie saak nie, toegewyd, vriendelik met glimlaggies en so ’n mooi gesindheid om met elke mens persoonlik te praat en te luister na watter blomme elkeen nodig het.
Elke dag hoor hulle stories van hartseer en van vreugde wat alles in mense se lewens gebeur en het ’n simpatieke oor vir elke situasie. Daar is altyd genoeg blomme in die vakansietyd, so kom kyk gerus wat is daar by die blommestalletjie in Yorkstraat.
Suraya ken die seisoene van die blomme en weet watter blomme sal liefde gee en die regte boodskap oordra.
Suraya en Amanda vertel hoe die blomme met hulle praat en hoe hulle weet om verskeie blomme bymekaar te sit vir ’n mooi rangskikking of ’n mooi bossie met gemengde kleure. Hulle neem bestellings vir funksies of wat mense ook al benodig en sal ook die nodige blomme bestel vir ’n spesiale geleentheid.
Hulle kry gereeld vars blomme van Johannesburg, Kaap en verskeie ander plekke. Mense kom van ver om by hulle blomme te koop en geniet die interaksie en liefde met Suraya en Amanda wat uitstraal van hier twee getroue hardwerkende vroue in George.
Die blommestalletjie inspireer en verryk die hart, gee hoop, troos, liefde en vrede vir so baie daar buite. Suraya gaan hierdie blommestalletjie weer oordra aan haar kinders, soos haar ma haar geleer het van blomme. Met haar sonbril, rooi lippe en hart vir blomme, mense en elke dag se daar wees, wil Suraya en Amanda net die gemeenskap dien met hulle geskenk van blomme en liefde.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'