Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Inwoners het gister gesteier nadat stormsterk winde in die vroeë oggendure 'n spoor van verwoesting gesaai het. In Blanco het 'n reuse bloekomboom deur 'n huis se dak geval en die slapende huiseienaars rakelings gemis. In Cradockstraat het 'n telefoonpaal 'n boom en muur platgeval en 'n inwoner se voertuig net-net gemis.
Talle huise se dakke is afgeruk en kragdrade is beskadig wat tot krag-onderbrekings gelei het.
Ander dele van die Tuinroete, soos Knysna, Mosselbaai en Oudtshoorn, het ook deurgeloop. Lees meer hieroor op ons verskeie webwerwe.
Munisipale werkers en reddingswerkers was reeds vroeg gisteroggend besig om die omvang van die skade te bepaal en herstelwerk te doen.
Huiseienaars was ook besig met herstelwerk. Wouter Jacobs van die Garden Route-distriksmunisipaliteit het benadruk die omvang van die volle skade moet nog bepaal word.
Jacobs het gesê kragonderbrekings het in sommige dele van George voorgekom en in die Geelhoutboom-gebied is bome omgewaai.
Marchell Kleynhans, 'n gemeenskapsleier, het gesê huise se dakke is in Rosedale afgewaai. "Dit was van die ergste winde die afgelope paar jaar. Gelukkig is niemand beseer nie."
Die dakke van verskeie huise in Rosedale en Blanco is ook afgewaai. Skade is ook aangerig in Slaapplekstraat, Heroldsbaai.
Kyk 'n video hieronder:
Suikerwater
Mieta Prins van Goedemoedsingel in Blanco het gisteroggend nog suikerwater nodig gehad vir die skok toe sy George Herald van die voorval vertel waartydens 'n boom dwarsdeur haar huis geval het. Prins se lewensmaat, Isak Kortjé, en haar dogter Isolene Prins (14), was vas aan die slaap toe hulle wakker skrik van 'n geweldige slag.
'n Bloekomboom het dwarsdeur hul eenvertrekhuisie geval, en boonop skade aan die buurman, Daniël Pockbas, se huis aangerig. Pockbas het gister met 'n handsaag probeer om die kleiner takke te verwyder.
Daniël Pockbas het gister met 'n handsaag probeer om die kleiner takke te verwyder. Foto: Michelle Pienaar
Bergwinde
Gerhard Otto, hoof van rampbestuur by die Garden Route-distriksmunisipaliteit, het gesê gewoonlik kom die winde eers in Augustus voor. Die laaste paar jaar het dit wel vroeër voorgekom in Junie of Julie, soos in die geval van die Knysna-brande in 2017. Volgens Otto is dit normaal dat bergwinde tot Augustus voorkom.
Die winde veroorsaak 'n groot risiko vir brande en mense moet versigtig wees vir oop vure. Chantel Edwards-Klose, woordvoerder van die George-munisipaliteit, het gesê geen skade is in Uniondale en Haarlem aangerig nie.
Teen gisteroggend het kragonderbrekings voorgekom in dele van Heroldsbaai en omliggende plase, Geelhoutboom, Victoria Heights, Wildernishoogte, Wilderness-Oos, Le Grand, Hansmoeskraal en dele van Thembalethu.
In 'n stadium was dele van Wildernishoogte gesluit om herstelwerk te doen aan skade wat deur die storm veroorsaak is.
Aandag is ook deur die nag gegee aan verskeie veldbrande in Rosemoor, Blue Mountain, Pacaltsdorp en Geelhoutboom en dit was gisteroggend onder beheer. Die brand by die George-stortingsterrein het egter steeds gewoed.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'