GEORGE NUUS - Meer as 300 deelnemers van oor die land het Saterdagoggend, 24 April, deelgeneem aan die eerste Anti-Bullying Colour Fun Run wat by die Hartenbos-seefront plaasgevind het.
Deelnemers kon die vars seelug inasem terwyl hulle al geselsend onderskeidelik op die wandelpad en strand beweeg het.
Sommige het gedraf, ander het gestap en sommige het met stootkarretjies en al die sand en verfwolke met hul spruite aangedurf. Eilande van pienk, blou, groen en pers was na afloop van die pretloop stille bewyse van 'n dag van pret.
Die uitdrukking, "derde keer (of drie maal) is skeepsreg", wat beteken die derde poging is suksesvol of alle goeie dinge bestaan uit drie, geld beslis hier.
Aanvanklik het die organiseerder, Karen Gray van Eden Beauty Pageants die pretloop vir Mei 2020 beplan, maar Covid-19 het 'n stokkie hiervoor gesteek.
Die tweede poging was vir 19 Desember 2020 beplan en toe word die strande gesluit. Gelukkig het alles hierdie keer volgens plan verloop en was daar baie gelukkige en moeë deelnemers wat na die tyd vir die pretdag kom dankie sê het.
Volgens Karen sal hierdie pretdag in die toekoms jaarliks rondom Vryheidsdag plaasvind.
Die dag se inkomste sal aangewend word om kampe vir slagoffers van boeliegedrag te reël om slagoffers die geleentheid te gee om bemagtig te word en in 'n veilige omgewing te ontspan.
Die seremonie-meester, Shaun Snyman van George, het die verwelkoming gedoen en genoem dat enigeen uitgelewer is aan boeliegedrag. Sulke gedrag neem verskeie vorms aan en elkeen reageer verskillend. Sulke gedrag kan mense se lewens vernietig of hulle vir ewig skaad.
Elke deelnemer het na afloop van die pretloop 'n medalje ontvang.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'