Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Blinde rekenaarprogrammeerder van hier spog met lewenslange lidmaatskap by sy gunsteling gimnasium. Carl de Campos, 'n gereelde besoeker aan Xtream Body Factory in Fairview Business Park, het verlede week hierdie eer te beurt geval.
Die eienaar van die gimnasium, Fred van Staalduinen, het gesê hy het besluit om De Campos te vereer met hierdie lidmaatskap aangesien hy so 'n geweldige inspirasie vir almal is. "Carl is vir die afgelope twee jaar 'n lojale lid van die gimnasium. Hy stap elke dag hierheen. Sy toewyding om 'n gesonde, fikse lewenstyl te handhaaf gaan nie ongesiens verby nie. Ons het besluit om hom 'n gratis lewenslange lidmaatskap te gee om hom gemotiveerd te hou en om meer mense te inspireer," het Van Staalduinen gesê.
De Campos oefen tans om sy krag te verhoog vir deelname aan die Ironman-driekampbyeenkoms in 2021. Hierdie atleet kom goed oor die weg met sy gidsstok, waarmee hy selfs skaatsplankry. Die stok het 'n sagte buigbare punt wat die gebruiker in staat stel om op enige terrein te beweeg. (Sien 'n YouTube video waar De Campos skaatsplankry, sowel as 'n onderhoud met die George Herald by www.georgeherald.com)
De Campos is in die wolke oor sy lewenslange lidmaatskap. "Hierdie mense is soos my familie," het hy gesê. "Ek voel so welkom hier. Nou kan ek net nog harder oefen!"
Buiten die tyd wat hy in die gimnasium spandeer en skaatsplankry, is De Campos lief vir fietsry en perdry. "Nou moet ek net nog leer goed swem vir die Ironman," sê hy.
Kyk 'n video hieronder:
Van links is Rosie van Niekerk (vloerbestuurder), André van Niekerk (bestuurder), Carl de Campos, Fred van Staalduinen (eienaar), Chanel Nipper (vloerbestuurder) en Chantel Blauw (skoonmaker). Foto's: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'