Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Danksy die ruimhartigheid van 'n gesiggestremde bejaarde, Corrie Jacobs, gaan kinders by die Môreson Kinder- en Jeugsorgsentrum in George met heerlike warm voete die winter kan slaap.
Die 83-jarige Jacobs van Tergniet het 100 paar sokkies gebrei en dit Dinsdag 1 Junie aan die kinderhuis oorhandig. Die sokkies is deur Hermien Carstens, voorsieningsbeampte van Môreson, ontvang. Dit sal later aan die kinders uitgedeel word.
"Dis wonderlik. Dis so welkom, veral nou met die koue wat ingesluip het. Ons is altyd dankbaar vir bydraes en ons is baie afhanklik van die publiek," het Carstens gesê.
Jacobs het aan George Herald vertel hoe die projek ontstaan het. Dit is 'n lang pad wat sy geloop het. Sy is blind gebore en was in haar jeugjare 'n leerling aan die Pionier Skool vir Blindes in Worcester. Daar het sy as agtjarige by een van haar vriendinne leer brei. Oor die jare het sy die stokperdjie voortgesit en vreugde met haar breiwerk aan mense verskaf.
Vroeër vanjaar het sy besluit sy wil iets vir iemand doen. Sy het geweet van Môreson en het hulle in Februarie gekontak. Sy wou hoor of sy vir die kinders slaapsokkies kan brei sodat hulle voetjies warm kan wees in die winter.
Nadat sy vasgestel het hoeveel kinders daar is en hoe groot die sokkies moet wees, is het sy begin met die taak om sowat 100 paar sokkies te brei. Die sokkies kon nie almal dieselfde grootte wees nie omdat die kinders se ouderdomme wissel tussen 6 en 18 jaar.
Sy het gewoonlik een paar sokkies per dag gebrei.
Kyk 'n video hieronder:
In 'n stadium het sy George besoek om wol te koop by Needle Nook. Hulle het gehoor waarmee sy besig is en vir haar vyf groot pakke wol geskenk. Sy het ook wol by familie en vriende ontvang. Middel Mei het sy die laaste paar sokkies voltooi. Dit was eindelik 'n spanpoging.
Haar dogter, Elna Jones, het gehelp om die breiwerk vas te werk. 'n Koordjie moes ook gehekel word om in te ryg om die sokkies vas te hou. Haar seun, Barry Jacobs, het gehelp om die koordjies in te steek.
INLAS - Die wintersokkies wat Corrie Jacobs vir die Môreson Kinder- en Jeugsorgsentrum in George gebrei het. Foto: Eugene Gunning
Volgens Jacobs was dit nie moeilik nie. Sy gebruik breinaalde en as gesiggestremde brei sy op gevoel.
Sy hou van brei en dit was 'n groot plesier. "Ek ontvang so baie en wil graag iets teruggee vir my medemens."
Dit was die grootste projek wat sy tot dusver aangepak het en sy wil aanhou brei. "As ek nie brei nie, raak ek depressief, ongeskik en kwaad," het sy vertel.
Corrie Jacobs (links) en haar dogter, Elna Jones, dra twee kartondose met die wintersokkies wat sy vir die Môreson Kinder- en Jeugsorgsentrum in George gebrei het. Foto: Eugene Gunning
Thanks to the kindness of a blind elderly women, children at the Moreson Childrens home in George will be able to sleep with warm feet this winter. Corrie Jacobs (83) of Tergniet knitted 100 pair of wintersocks for the children. She handed it to Moreson on Tuesday (1June).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'