Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Drie houtstrukture, 'n motor en 'n karavaan het in die slag gebly toe 'n brand Dinsdagmiddag omstreeks 15:30 in Fortuinstraat, in Blanco uitgebreek het. Brandbestryders van George-brandweer was vinnig op die toneel en het die brand onder beheer gebring.
Twee steenhuise aan weerskante van die houtstrukture het ook skade opgedoen. Volgens die brandweerhoof, Neels Barnard, is die oorsaak van die brand onbekend.
Enkele mense, waaronder 'n 2-jarige dogtertjie wat in die houtstrukture gewoon het, is vir rookinaseming behandel.
Niemand is egter tydens die brand ernstig beseer nie.
Johnny Johnson, een van die mense wat deur die brand geaffekteer is, het sy motor in die brand verloor. Volgens Johnson het die eienaar van die houthuis, wat eerste aan die brand geslaan het, blykbaar iets op die stoof vergeet.
Johnny Johnson staan voor die as wat eens sy huis was. Foto: Michelle Pienaar
"Die vlamme was net te groot ons kon dit nie blus nie," het hy gesê. Die houthuise het die een na die ander vlam gevat, en versprei na die steenhuise aan weerskante.
Diegene wat graag die families wil ondersteun kan kontak maak met Mariette Griebenauw van Shear Illussion by 061 265 4898.
Kyk 'n video hieronder:
Brandbestryders van George-brandweer was vinnig op die toneel. Foto: Kristy Kolberg
'n Ford Eskort is in die brand vernietig. Foto: Michelle Pienaar
Kinders soek tussen die oorblyfsels na iets van waarde. Foto: Kristy Kolberg
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'