GEORGE NUUS - Die gemeenskap van Blanco saam met die Wyksraadslid van Wyk 1, Raadslid. Jean Säfers en die Vriende van die Biblioteek, ‘n nie-winsgewende organisasie en amptenare verlede week Blanco Biblioteek se 50ste bestaansjaar gevier.
Säfers was ook die draer van goeie nuus so knap voor Kersfees, toe hy aangekondig het dat die Blanco Biblioteek vergroot gaan word en heeltemal opgeknap gaan word.
Säfers het Blanco Biblioteek gelukgewens met die mylpaal wat behaal is en het ook ‘n beroep gedoen op die gemeenskap om vir die dorp te bid en om verantwoordelikheid vir hul omgewing te neem.
Hy het gevra dat die gemeenskap nie moet toelaat dat mense plekke bemors en vandaliseer nie.
Volgens mnr. Shanold Marillac, Senior Bestuurder: Gemeenskapsontwikkeling en Biblioteke, is die Blanco Biblioteek in Maart 1967 geopen.
Luidens die geskiedenis is dit nie duidelik op presies watter dag dit gebeur het nie.
Hy het in sy toespraak aan die bejaardes en jeug in die Blanco gemeenskapsaal gesê Blanco is ‘n miernes van bedrywighede.
Marillac het gesê die Biblioteek is een van die min plekke waar oud en jonk saam in een plek is en ons moet dit koester.
Hy het gesê die Biblioteek is ‘n bron van inligting maar dit is ook ‘n plek van ontmoeting.
“Ek het al gehoor hoe ruil mense resepte uit by die Biblioteek,” het hy skertsend gesê. Marillac het gesê die Biblioteek moet ‘n ligtoring word en hy bid dat God ons van krag tot krag sal neem.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'