GEORGE NUUS - Die minister van kulturele sake en sport, Anroux Marais, het die Suid-Kaap gekies as die streek waar sy die laaste twee dae van nasionale biblioteekweek wil deurbring.
Die tema van vanjaar se spesiale week vir biblioteke (15 tot 21 Maart) is “biblioteke maak saak” (libraries matter) en is veral van toepassing in die huidige milieu van Covid-19.
Terwyl die reën soos ‘n koel lafenis vroeër vanmiddag (Vrydag 19 Maart) in George uitsak, het Marais vertel van haar liefde vir boeke en veral Afrikaanse romanse.
Tydens haar besoek aan George was beide Thembalethu en Conville-biblioteke gesluit, maar sy het heerlik gesels met die personeel van George-biblioteek in Caledonstraat. Sy was beïndruk met die spesiale hoekie vir braille lesers.
Marais het opgemerk dat die vriendelike omgewing van al die Suid-Kaapse biblioteke haar opgeval het: “Biblioteek-personeel is kreatiewe mense. Hulle het ‘n passie vir dit wat hulle doen,” het sy gesê. “’n Mens moet nooit die waarde van lees onderskat nie. Biblioteke is ‘n veilige hawe in ons gemeenskap – veral vir kinders.”
Die areas waar Marais besoek afgelewer het sluit in Riviersonderend, Heidelberg, Melkhoutfontein, Albertina, Mosselbaai, George en Oudtshoorn. Die jaarlikse viering van die Suid-Afrikaanse Biblioteekweek gedurende die derde week van Maart vorm deel van 'n nasionale strewe om inligtingsdienste en bronne, sowel as lees en die voordele van geletterdheid, te bevorder.
Dit word moontlik gemaak deur die Wes-Kaapse biblioteekdiens in vennootskap met plaaslike owerhede en openbare biblioteke.
Minister Anroux Marias (voor) en Gerty Potts, saam met ander personeel van George-biblioteek. Agter,van links: Petro Ruiters, Anneli Booysen, Anthula Solomons, Jacques Olivier en Jana Botha. Foto's: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'