Update
GEORGE NUUS - Die polisie ontken steeds gerugte dat die persoon wat in Maart vanjaar vir Bianca Langley (18) voor Club Rush in Pacaltsdorp omgery het, 'n polisieman is.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, is daar geen bewyse of getuies wat dit bevestig nie.
"Die voorlopige ondersoek dui daarop dat dit 'n buitelander is wat by die vermelde ongeluk betrokke was. Die identiteit is aan ons bekend en die man is volgens ons inligting tans in Kaapstad. Sy verklaring oor die gebeure sal eersdaags bekom word waarna die dossier aan die hof voorgelê sal word vir 'n beslissing," het Pojie by navraag aan die George Herald gesê.
Langley is op Sondagoggend, 31 Maart deur 'n silwerkleurige VW Golf 5 voor die nagklub omgery. Sy en haar vriende was na bewering op pad huis toe, toe die voorval in die parkeerarea voor die Spar-winkelsentrum plaasgevind het.
Ooggetuies het aan haar pa, Brandon, vertel hoe die motor eers bo-oor haar gery het, stilgehou het en toe in trurat weer bo-oor haar gery en gaan staan en spin het. Sy het onder die kar beland en daar vasgesit totdat omstanders die voertuig oplig het.
Volgens Pojie is die bestuurder van die Golf glo deur omstanders op die toneel uit die kar gegryp en op die toneel aangerand. Hy is ook dieselfde aand gehospitaliseer.
"Die verdagte is glo reeds in die klub aangerand en het Langley omgery terwyl hy gevlug het," sê Pojie.
Langley op die herstelpad
Langley het veelvuldige beserings en verskeie beenbreuke opgedoen waaronder haar bekkenbeen, heupe, bene en arms. Haar linkerarm het ernstige brandwonde opgedoen en haar regterarm was op drie plekke gebreek. Sy het talle operasies ondergaan en sou aanvanklik na die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad oorgeplaas word, maar na twee maande in die George-hospitaal is sy ontslaan om verder by die huis te herstel. Haar ma, Nazeema, sien nou na haar om.
Enigiemand met inligting rondom die voorval word versoek om die ondersoekbeampte, ao. William van Schalkwyk by 079 894 1589 te skakel.
Lees 'n vorige artikel | Nagklub-ongeluk: Verdagte steeds op vrye voet
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'