GEORGE NUUS - Die Jonkersbergpad en verskeie ander paaie in die George-distrik is in die vloed van November 2021 beskadig en dit raak veral boere wat produkte moet vervoer.
Volgens die Tuinroete-distriksmunisipaliteit is verskeie prosesse aan die gang om dit aan te spreek.
In reaksie op 'n klagte van 'n inwoner van die Jonkersberg-area, het Marlene Nqumse, kommunikasie-beampte van die munisipaliteit gesê hul paaie-departement het verslae oor reënskade in die streek aan die Wes-Kaapse provinsiale regering voorgelê.
(Die munisipaliteit tree as agent op vir die provinsiale departement van vervoer en openbare werke onder wie distrikspaaie val.)
"Die provinsiale regering het die struktuur van die (Jonkersberg)-pad en -brug geïnspekteer en werk tans aan ontwerpe, omgewingsgoedkeurings en begrotingstoekennings. Sodra daar goedkeuring is vir herstelwerk aan die geaffekteerde gebiede in die streek, sal daarmee begin word. Dit is belangrik om in ag te neem dat daar verskeie vloede was en dit vereis die herprioritisering van skedules en begrotings moet oor toegeken word," het Nqumse gesê.
Jandré Bakker, woordvoerder vir die Wes-Kaapse paaiedepartement het vroeër aan George Herald gesê bronne wat vir die herstel van vloedskade in die Montagupas aangewend sou word, is na ander prioriteite in die streek se padnetwerk gekanaliseer. Dit was nadat die Wes-Kaapse Erfenistrust herstelwerk aan die historiese pas gestop het omdat die nodige permitte nie in plek was nie.
Skade aan die Jonkersbergpad is in die vloed van November 2021 aangerig, maar geen herstelwerk is nog gedoen nie.
Volgens Ronald Bekker, die inwoner wat gekla het oor die Jonkersbergpad, dra die pad baie verkeer en is dit 'n noodsaaklike roete vir boere wat hul produkte op die mark moet kry.
"Die pad is in 'n uiters swak toestand en 'n gedeelte van die brug het ook tydens die vloed gebreek. Voertuie word beskadig en ons het voortdurende herstelkoste. Daar is boere wat die pad gebruik om melk en gewasse te vervoer.
"Hulle moet gereeld vragmotor-bande vervang teen geweldige hoë kostes.
"So 'n band kos R10 000. Vering hou ook nie, wat ook duisende kos."
Volgens Bekker behoort die pad met gruis bedek te word omdat skraap nie meer help nie.
Rianel Stoffels sê skoolkinders word op die Jonkersbergpad vervoer.
"Dis ons enigste manier hoe om in en uit Jonkersberg te kom. Die provinsie het net kom afskort (by die brug) laas met die groot reën (in 2021), maar daar word niks aan die saak gedoen nie. Ons as inwoners van Jonkersberg is baie bekommerd daaroor. Ons paaie lyk vreeslik en verkeersbeamptes trek ons lisensieskyfies af as gevolg van die paaie wat ons voertuie breek. Van ons is nie so bevoorreg om onmiddellik 'n ding reg te maak wat breek op ons voertuie nie."
Die brug het gedeeltelik opgebreek in die vloed van 2021.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’