GEORGE NUUS - 'n Bekende besigheidsman en ontwikkelaar van Pacaltsdorp, John Robertson (74), het verlede Woensdag
10 Oktober in sy slaap gesterf. Robertson was die eienaar van Fairview Liquor Store en die voormalige eienaar van Pick n Save Pacaltsdorp.
Sy familie beskryf 'Mr Robertson' as 'n liefdevolle mens met baie empatie vir sy medemens. Hy was lief vir grappies vertel en sing.
John Robertson is 'n boorling van Pacaltsdorp, waar hy sy skooljare by Pacaltsdorp Primêr en Hoërskool George deurgebring het. Hy was 'n passievolle rugbyspeler en het graag die posisie van haker gespeel.
Robertson het sy loopbaan as onderwyser in 1966 begin. Hy is later as skoolhoof van Oakhurst Primêr op Hoekwil aangestel. In sy latere jare het hy van beroep verander en was hy 'n uiters suksesvolle besigheidsman.
Robertson word oorleef deur sy eggenoot, Helen, twee seuns, drie dogters, agt kleinkinders, twee susters en 'n broer.
Die troosdiens is Donderdag 18 Oktober by die Congregational Church (Klipkerk) Pacaltsdorp, en die huisdiens geskied op Saterdag 20 Oktober om 10:00 by Square Hill Drive 54, Dellvillepark en 11:00 by die Congregational Church Pacaltsdorp.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'