Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die skoonheid van orgideë is van vandag (Donderdag 22 September) tot Saterdag tydens die jaarlikse orgideëskou in George te sien. Dit vind by die Presbiteriaanse Kerk in Caledonstraat plaas.
Benewens die uitstalling van die plante, met die tema 'Go Wild, Go Orchids' sal daar ook demonstrasies aangebied word oor die versorging van die plante. Plante en orgideë-mengsels sal ook te koop aangebied word en verversings is beskikbaar.
Die uitstallings sal vandag en môre van 09:00 tot 17:00 besigtig kan word en van Saterdag van 09:00 tot 14:00.
Elsa Hall, eienaar van Outeniqua Orchids wat by die reëlings betrokke is, het gesê besoekers is welkom. Toegangsgeld is R10 en kinders onder 12 is gratis.
Hall is reeds meer as 30 jaar betrokke by orgideë en kweek sedert 2004 orgideë in George. Sy het sowat drie jaar gelede na die huidige perseel in Blanco getrek. Elsa kan nie uitgepraat raak oor die vreugde wat die kweek van orgideë bring nie. Die is vir haar 'n passie.
Sy het voorheen voltyds 'n kwekery in Stellenbosch bedryf.
Covid-19 het ook 'n impak op die bedryf gehad. Voor Covid-19 het sy orgideë ingevoer van Amerika. Dit het sedertdien baie duur geword om die plante in te vlieg.
Daar is sowat 30 000 verskillende spesies in die wêreld en in Suid-Afrika is daar tussen 400-450 inheemse spesies.
Elsa Hall, eienaar van Outeniqua Orchids met van die plante.
Volgens haar is daar wêreldwyd 'n tekort aan orgideë. Die plante neem toe in gewildheid en dit raak makliker om te groei.
Een van die uitdagings is dat mense dit koop en dan nie weet hoe om die te groei nie. Dit gebeur soms dat die plante vrek en dan gooi mense dit weg. Haar advies is dat kopers moet navorsing doen oor die spesies waarin hulle belangstel voordat hulle koop.
VIDEO: Kom kyk na die skoonheid van orgideë
Met die nodige kennis kan probleme verhoed word. Dis moontlik om orgideë in George te kweek, maar dit het sy uitdagings. George is nie die warmste plek nie en plante het soms skadunet en 'n deurskynende dak nodig.
Elsa is gewillig om meer inligting te gee by die kwekery op 'n Woensdagoggend.
Die oudste plant in haar versameling is 40 jaar oud en is genoem dendrobium speciosum - dit het van Australië ingekom.
Petro van Niekerk van die Vroue-landbouvereniging (VLV) het onlangs saam met dames van die organisasie die kwekery besoek. Sy kon nie uitgepraat raak oor wat alles daar gedoen word en die pragtige blomme.
Een van die orgideë in blom.
Van die orgideë.
Van die orgideë. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'