STREEKSNUUS - ’n Bekende oudinwoner van Oudtshoorn, mnr. Nelius Vermaak (48), is Sondagoggend oorlede nadat hy ’n massiewe hartaanval gehad het voor die Checkers-winkelsentrum in Knysna.
Mediese personeel het op die toneel probeer om sy hart weer aan die klop te kry en hom na die Knysna-hospitaal gehaas.
Vandaar is hy na die George-hospitaal oorgeplaas, maar sy broer, mnr. Christo Vermaak, is toe reeds in kennis gestel dat hy breindood verklaar is.
Sy ouers, mnr. Boet en mev. Willa Vermaak, asook sy broer en skoonsuster, mnr. Peet en mev. Maureen Vermaak het langs Nelius se sterfbed gebly tot die lewensondersteuningsmasjiene Sondag in die vroeë oggendure afgeskakel is.
Nelius was ’n bekende rekenaarprogrammeerder en webwerfkundige op Oudtshoorn voor hy sy werk drie jaar gelede in Knysna voortgesit het.
Voordat hy belangstelling in rekenaars begin toon het, was hy ’n staatsaanklaer waarna hy as afloslanddros op verskeie dorpe regoor Suid-Afrika gewerk het.
Hy word oorleef deur sy ouers, asook drie broers, Hendrik, Christo en Peet en drie skoonsusters, Yvonne, Marjan en Maureen.
Hendrik het Woensdagmiddag vanuit Perth, Australië by die familie aangesluit.
Nelius is gisteroggend om 10:30 vanuit die Gereformeerde Kerk in Parkweg ter ruste gelê.
Artikel: Jaco Human, Oudtshoorn Courant (susterkoerant van die George Herald).