GEORGE NUUS - Pieter Koen, die ywerige tuinmaker wie se welige groentetuin by Meyerstraat 95 vir dekades 'n bekende baken in Bergsig was, is verlede week Dinsdag, 11 April, in die ouderdom van 85 jaar aan natuurlike oorsake oorlede.
Hy is nou herenig met sy geliefde vrou, Rina wat slegs ses maande vantevore, in Oktober verlede jaar, oorlede is, vermoedelik weens 'n bloedklont deur die hart. Dit was kort voor haar 84ste verjaarsdag.
Volgens Salmarie Koen, hul jongste dogter wat in George woon, was haar pa "so gesond soos 'n bees" en het hy nog 'n groot groentetuin aan die gang gehou op die plaas in Delmas by haar suster, Ronel Lowies, waarheen hulle in 2021 verhuis het.
Pieter het onlangs George toe gevlieg om sy vrou se as in die nis by die NG Kerk Bergsig te kom bêre, en dit was nie lank nadat hy weer in Delmas aangekom het nie dat hy ongesteld begin raak het.
"Dit was ongeveer 'n week voor sy dood dat Ronel my laat weet het ek moet kom. Aanvanklik het ons oorweeg om hom in die hospitaal te laat opneem, maar hy het mooi gevra dat hy eerder tuis by my suster in die huis wou sterf waar my ma ook heengegaan het.
"Hy het in 'n semi-koma ingegaan van die Woensdag voor sy dood. Die Maandag was hy egter helder wakker en het selfs 'n koppie tee gedrink. In die vroeë oggendure Dinsdag het hy my en my sussie geroep en vir ons gesê hy is lief vir ons en ons moet na mekaar kyk. Later die oggend is ek en Ronel apteek toe om iets vir hom te gaan kry, maar halfpad soontoe het haar seun gebel om te sê dis nie meer nodig nie."
Pieter en sy vrou Rina sou vanjaar vir 57 jaar getroud gewees het.
Pieter was nog sterk en gesond tot kort voor sy dood. Sy groentetuin in Delmas was baie groot, maar hy het dit op eie houtjie behartig. By hom staan Seun Lessing.
Vierdestraat mis oom Pieter
Talle mense het op Facebook hul herinneringe aan die egpaar gedeel. Theo Ferreira het gesê: "Ons almal mis hom baie hier in Vierdestraat. Sal nie dieselfde wees nie. Gaan rus sag oom. Oom het baie beteken vir een en elk van ons. Oom se goeie dade sal voortleef in George."
Willem Botha: "Ek dink nie ek sal aan hulle huisie hier in George dink en nie aan die oom se pragtige groente dink nie."
Jaco Barkhuysen: "Daai tweetjies hoort saam. Sjoe, daai tuin was vol liefde."
Pieter laat sy twee dogters en skoonseun asook vier kleinkinders en ses agterklein-kinders agter.
'n Gedenkdiens is Maandag 17 April in Springs gehou. Reëlings vir 'n diens in George is nog nie gefinaliseer nie.
Pieter Koen op sy gelukkigste.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’