GEORGE NUUS - Abraham (Boet) Otto, 'n Georgiet wat 'n groot bydrae tot die rooivleisbedryf gelewer het, is die naweek in die ouderdom van 77 jaar oorlede.
Otto is in Kaapstad gebore en het daar grootgeword. Hy was die oudte seun van Lourentia en Phillippus Otto.
In 1970 verhuis hy na die Suid-Kaap waar hy as werkswinkelbestuurder by Du Plessis Motors in Oudtshoorn gewerk het. In die Suid-Kaap het hy as knap skut sy passie vir die natuur en jag begin toon.
In 1980 het hy na George verhuis waar hy by die rooivleisbedryf as abattoirbestuurder van die George-abattoir en later mede-eienaar van KrapKor betrokke was. Hier het Roelcor die dinamiese leier opgeraap om nie net hul abattoir in George vanaf 1991 tot 2000 te bestuur nie, maar ook om hul eerste uitvoer-volstruisabattoir in Malmesbury te vestig.
Vir die laaste 10 jaar van sy loopbaan het Otto tot en met 2010 baanbrekerswerk vir die Suid-Afrikaanse volstruisindustrie verrig.
"My oom was 'n besondere mens. Hy was iemand in wie se spoor almal met trots kan loop," sê Gerhard Otto, die Tuinroete se rampbestuurshoof."
Hy was 'n familieman duisend en in staat om met onderskeiding voor te loop. Hy was 'n mense-mens wat baie jag- en visvangstories langs die braaivleisvuur kon vertel. Hy laat 'n groot leemte, nie net by sy vrou (Pracilla), sy kinders (Ryan en Marinda), kleinkinders (André en Morné) nie, maar ook in die Suid-Kaap."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'