GEORGE NUUS - Die dood verlede week van 'n bekende boer van die George-omgewing, Nico van Rensburg (46), laat 'n groot leemte in die gemeenskap. Hy is weens Covid-19 oorlede.
Van Rensburg het in die George-skouraad, Outeniqua-boerevereniging se bestuur en die bestuur van die Outeniqua Jerseygenootskap gedien. Hy was ook 'n gemeenteraadslid by die NGK Blanco-gemeente.
Volgens sy vrou, Gerda, was haar man 'n toegewyde boer en "fenomenale" mens. "Sy hart was absoluut by sy beeste. Ek het altyd gesê sy Jersey-beeste is sy suurstof. Nico was nederig, vergewensgesind, liefdevol, vrygewig en baie behulpsaam. Hy was ongelooflik lief vir mense. Die aantal boodskappe en oproepe wat ek al gekry het na sy dood wys watter impak hy op mense gehad het."
Gerda sê daar was 'n hegte band tussen haar man en hulle twee seuns. "Hy het hulle van boerdery geleer en hulle was gedurig saam met hom op die plaas rond."
Corné Botha, president van die George-landbouskou, het gesê Van Rensburg se dood is 'n enorme verlies vir die skou. "Ek kan dit amper nie beskryf nie. Hy kom al jare aan met die skouraad. Ek het nie 'n beter en meer saggeaarde ou geken as Nico nie.
"Hy was die hoof van die melkbeesteportfolio en het twee keer die SA Jerseykampioenskappe na George gebring om dit aan te bied. Hy het die vermoë gehad om bitter goed aanklank te vind by die borge in sy veld. Die Tour de Farm-fietsren wat Jakhals Events (Botha se maatskappy) aanbied, was eintlik sy baba.
"Sy nalatenskap is uitgebreid en hy het sulke groot spore getrap by die skou dat dit moeilik sal wees om dit vol te staan. Ek het nie net 'n kollega verloor nie, maar ook 'n baie goeie vriend."
Wikus van der Merwe van Alta Genetics ZA sê Van Rensburg was bekend vir die Avondrood Jersey-kudde. "Hy het elkeen op die naam geken en al die geslagte voor hulle. Hy was 'n ware meesterteler. Nico het ten spyte van sy kudde se prestasies nie gespog nie, maar was nederig dankbaar vir elkeen. George-skou was altyd 'n hoogtepunt vir almal wat daar deel was. Nico se teen-woordigheid daar en by die Outeniqua Jerseyklub het die verskil gemaak."
Van Rensburg word ook onthou vir sy betrokkenheid by die vleismark van die Blanco-gemeente wat jaarliks by die 4 Brothers-aartappelstoor aangebied is.
Hy laat sy vrou Gerda en twee seuns, Ferdinand (17) en Francois (14) agter.
'n Begrafnisdiens vind op Vrydag 13 Augustus om 15:30 vanuit die NG kerk Blanco plaas. Getalle is beperk weens die inperkingsmaatreëls, maar mense sal ook aanlyn kan kyk. 'n Skakel sal Vrydagoggend bekendgemaak word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'