STREEKSNUUS - "Ek wil nie eintlik kommentaar lewer nie, want dis vir my ‘n lelike dag soos die dae wat ons in 1994 beleef het", het kol Clive Kaptein, bevelvoerder van Da Gamaskop polisiekantoor Dinsdag na afloop van ‘n ontruimingsaksie aan die Advertiser gesê.
Kaptein was in bevel van die polisie-optrede teen ‘n groep mense wat onwettig probeer het om munisipale, sowel as privaat-eiendom langs Louis Fourieweg in D`Almeida te beset en reeds etlike tydelike strukture daar oprig het. ‘n Groot aantal erwe was ook reeds uitgepen.
Nadat die burgemeester, raadsdame Marie Ferreira die aanwesiges meegedeel het dat die munisipaliteit en hul leiers ooreengekom het om oor ‘n maand weer die behuisingsaangeleentheid te bespreek, het sy ‘n beroep op die beswaardes gedoen om uitmekaar te gaan.
"Ek vra mooi dat julle vreedsaam uitmekaar gaan. Ek wil nie hê enigeen moet vandag hier seerkry nie", het sy gesê.
Haar mededelings is met "jy lieg", "julle het ons grond verkoop", begroet en die aanwesiges het geen gehoor gegee aan die vyf minute afkoel-periode om uitmekaar te gaan nie.
Hierna het die polisiemanne met hul skilde inbeweeg. Bykans 120 persone het vrywillig na die wagtende vang waens beweeg en ingeklim. Die persone is na die Da Gamaskop Polisiekantoor geneem waar hulle vreedsaam uitmekaar is.
Volgens die skakeloffisier van die polisie, Kapt Wollie Fourie, is drie van die groep se leiers wél onder Wet 205 van 1993 op die reël van byeenkomste aangekla. Dié drie, wat almal leiersfigure van ‘n plaaslike gemeenskapsorganisasie is, sal op 21 Julie in die plaaslike landdroshof verskyn.
Die beswaardes het by monde van mnre Rudolf Petersen (36) en Philip (Engel) van Heerden (35), albei boorlinge van die dorp, hul teleurstelling en frustrasies met die behuisingskwessie in D`Almeida gelig. Volgens hulle is albei reeds vir baie jare op een of ander lys en is daar wél huise aan hulle belowe.
"Indien daar huise beskikbaar gestel word, is dit net die inkommers wat die huise kry en ons moet bly ‘board’ of in ‘n hool bly", het Petersen gesê en bygevoeg dat daar geen groot gelag gemaak is van die feit dat mense in Aslapark geplak het nie.
"Hoekom nou hier in D`Almeida stof wil opskop", het hy gevra.
Van Heerden het ‘n beroep op die burgemeester gedoen om ook na D`Almeida se mense te begin kyk.
"U is die moeder van die dorp. Dit gaan hier oor die breë gemeenskap en ons wil almal hier ‘n plekkie hê", het hy gesê.
Volgens die woordvoerder van die Mosselbaai Munisipaliteit, mnr Harry Hill, is behuising vir hulle ‘n taai toffie. "Behuising is nie die plaaslike regering se verantwoordelikheid nie en daarom is ons hande afgekap.
Ons kan nie daarvoor begroot of werklik projekte aanpak sonder die provinsie se geldelike ondersteuning nie", het hy gesê.
‘n Gedeelte van die grond waarop die grondbesetters beslag wil lê, word tans vir die oprig van ‘n provinsiale hospitaal oorweeg. "Dis glad nie aan oorsese ontwikkelaars verkoop soos van die beswaardes se leiers beweer nie", het Hill aan die Advertiser gesê.
Brandstigting
Twee aksies van brandstigting op munisipale eiendom sowel as ‘n amptenaar word tans ondersoek.
* ‘n Brand het Dinsdagaand omstreeks 02:00 groot dele van die munisipaliteit se elektriese- sowel as personeel-afdeling se gebou in Georgeweg verwoes. Na wat verneem word is die kantore aan die binnekant in puin gelê en is die dak onherstelbaar beskadig.
Die Mosselbaai Speurtak ondersoek ‘n saak van brandstigting.
* Omstreeks 06:00 Woensdagoggend is ‘n brandende buiteband teen die motorhuisdeur van die onderburgemeester, mnr Harry Levendal, in Uitbreiding 22 in D`Almeida geplaas. Die deur en agterkant van die motor wat binne-in die motorhuis was, is erg beskadig.
Die Da Gamaskop Speurtak ondersoek ‘n saak van brandstigting.
(Artikel verskaf deur die Mossel Bay Advertiser van Vrydag, 2 Julie. Die Mossel Bay Advertiser is 'n susterkoerant van die George Herald.)