GEORGE NUUS - Openbare druk is aan die opbou oor die voorgestelde Bela*-wetsontwerp wat die mag van beheerliggame by openbare skole aan bande kan lê. Kommer bestaan dat die omstrede wetsontwerp verreikende implikasies inhou en die toekoms van duisende skole raak.
Dit is gister selfs deur die onderwyskenner, Jannie van der Westhuizen, bestempel as 'n moontlike vetoreg vir die staat wat Afrikaans as onderrigmedium kan bedreig.
Die kwessie het verlede naweek opnuut in die kollig gekom met uitsprake van die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, oor die toekoms van skoolbeheerliggame.
Twee maande gelede het Motshekga die noodsaaklikheid van moedertaalonderrig beklemtoon, maar nou sing sy weer 'n heel ander deuntjie. Só het die burgerregte-organisasie AfriForum se hoof van kultuursake, Alana Bailey, gesê oor Motshekga se jongste uitlatings rakende skoolbeheerliggame.
Motshekga het tydens 'n mediakonferensie in Pretoria op Sondag 1 Oktober verklaar dat die regering verby die stadium is van toegewings maak aan beheerliggame ter wille van vrede in die land. Sy het ook gesê dat 'n selfrespekterende regering nie kan toelaat dat 'n skoolbeheerliggaam voorskryf wat 'n skool se taal- of toelatingsbeleid mag wees nie.
Die Wes-Kaapse regering het by monde van hul onderwysminister, David Maynier, sterk standpunt teen die wysigings ingeneem. "Dis 'n poging om die mag van skoolbeheerliggame af te takel, wat ouers se seggenskap oor hul kinders se opvoeding verminder. Ons is tans besig om regsadvies in te win oor dié aangepaste weergawe van die [Skole]-wet," het hy gesê.
Politieke ondertone
Van der Westhuizen het gesê die voorgestelde wet het beslis politieke ondertone. Dit hou 'n bedreiging in vir Afrikaans as onderrigmedium in skole.
Hy het gister, Woensdag 4 Oktober, gesê daar moet in gedagte gehou word dat die SA skolewet van 1996 voorsiening maak vir twee soorte skole: onafhanklike en openbare skole.
In openbare skole het die gemeenskap inspraak in die beleid en die groter raamwerk waarbinne die skool funksioneer. "Dit vind sy weg deur beheerliggame. Een van die kernfunksies van 'n beheerliggaam is beleidsformulering oor byvoorbeeld taal en godsdiens. Dis 'n demo-kraties verkose instansie en ouers het die meerderheidsbelang."
In die nuwe voorgestelde wet sal beheerliggame nog beleid kan formuleer.
"Die kinkel in die kabel is egter dat die toelatings- en taalbeleid deur die onderwysdepartement goedgekeur moet word. Die implikasie daarvan is dat die staat 'n vetoreg sal kry oor toelatings- en taalbeleid. In 1994 is juis onderhandel dat gemeenskappe inspraak kry in onderwys."
Volgens Van der Westhuizen kan daar ook vrae wees oor die tydsberekening. Dis volgende jaar verkiesingsjaar.
Unieke behoeftes
Kritiek oor die voorgestelde wetsontwerp is ook uitgespreek by monde van Servaas de Kock, voorsitter van Laerskool George-Suid se beheerliggaam. De Kock sê elke skool het unieke behoeftes en die skool se onderwyshulpbronne word dienooreenkomstig saamgestel.
"Die beheerliggaam is die beste geposisioneer om hierdie unieke behoeftes te kan verstaan en dan die nodige beleide te formuleer. Om hierdie funksie te sentraliseer gaan myns insiens ongelooflik oneffektief wees en bydra tot geweldige hoë vlakke van konflik. Die onderwysdepartement is nie so geposisioneer om te verstaan wat die unieke behoeftes van skole is nie.
"Hierdie wysigings is polities gemotiveerd en ondersteun nie die beste belang van die gemeenskap en leerders nie. Die Grondwet en Skolewet gee elke leerder bepaalde beskerming rondom hierdie uitdagende onderwerpe en ek kan sien dat daar baie lang hofgedinge voorlê voor suksesvolle implementering gaan plaasvind."
Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake.
Lynreg weerspreek
AfriForum se Bailey is glad nie beïndruk met die minister se uitspraak Sondag 1 Oktober oor die toekoms van beheerliggame nie. "Haar vorige ondersteuning van moedertaalonderrig word deur Artikels 5 en 6 van die Bela-wetsontwerp lynreg weerspreek," het Bailey gesê.
Sy voer aan dat die wetsontwerp dui op magsvergrype van die ANC, wat probeer om besluitnemingsprosesse te sentraliseer. "Hulle beskou skole se beheerliggame as 'n las eerder as 'n bate, en staan eentalige Engelse onderrig voor," het sy gesê.
"Op die oomblik besluit die beheerliggaam van 'n skool wanneer 'n skool vol is, volgens die wetlike aspekte, en hulle besluit oor die taalbeleid van die skool, of dit dubbel- of parallelmedium moet wees. As die onderwysdepartement voel dis onregverdig, dan kan hulle 'n proses volg om die besluit van die skoolbeheerliggaam ter syde te stel mits die onregverdigheid bewys kan word. Daar is 'n appèlproses wat gevolg kan word.
"Wat die Bela-wetsontwerp voorstel, is dat die provinsiale onderwyshoof die finale besluit oor die skool se taal- en toelatingsbeleid kan neem. Die beheerliggaam sal seker nog funksies uitvoer soos dissipline prosesse, maar eintlik word hul tande getrek. Die hele mooi verhouding tussen die gemeenskap en die skool sal tot niet wees as die wetsontwerp geïmplementeer word. Die beheerliggaam sal dan bestaan uit vrywilligers wat nie eintlik 'n sê het nie."
Bailey het verduidelik dat die Bela-wetsontwerp volgende na die nasionale vergadering sal gaan, wat dit moet goedkeur of afwys.
"Daarna sal dit gaan na die raad van provinsies, en dan na die president om te teken. As dit voor die voet goedgekeur word, is daar nie 'n verdere kans vir publieke betrokkenheid nie. Op dié stadium is dit maar 'n wag-en-sien-situasie. Instellings soos AfriForum sal die publiek in kennis stel as daar wel 'n verdere geleentheid vir insette ontstaan."
Wes-kaapse minister van onderwys, David Maynier.
Teen Afrikaans
Volgens Bailey is die Bela-wetsontwerp spesifiek teen Afrikaanse skole gemik. Sy reken egter dat die effek van die implementering daarvan veel wyer sal uitkring.
"In Gauteng het ons reeds gesien dat selfs ook Engelsmedium skole gedreig word om hulle leerder inname dramaties te vergroot en ruimtes wat vir onder meer biblioteke, rekenaarsentrums en laboratoriums gebruik word, ook as klasse in te rig," het sy gesê.
"Saam met die vernietiging van Afrikaanse moedertaalonderrig en beëindiging van ander inheemse tale se aspirasies om ook meer geleenthede vir moedertaalonderrig te kan aanbied, sal die departement eenvoudig wanfunksionele skole aan hulle lot oorlaat en funksionele skole volstop ten einde kiesers te probeer tevrede hou.
Bela is dus ook 'n aanslag teen gehalte onderrig. Om die rede moet almal standpunt daarteen inneem en as dit aanvaar sou word, saam met AfriForum litigeer daarteen. Die toekoms van ons jeug is op die spel."
Servaas de Kock, voorsitter van Laerskool George-Suid se beheerliggaam.
Tuisonderrig
Die wysigings bevat ook sekere bepalings wat spesifiek op tuisonderrig gerig is, maar Impaq, 'n tuisonderrigprogram met 'n bystandsentrum in George, sê in 'n kommentaar op hul webtuiste dat die wetsontwerp nie die einde van die pad is vir tuisonderrig nie.
Dit erken tuisonderrig as 'n wettige alternatief vir 'n openbare of privaat skool in Suid-Afrika en verskaf meer leiding, wat tuisonderrig se posisie in werklikheid versterk. Uiteindelik wil die wet tuisonderrig reguleer om te voldoen aan spesifieke standaarde om te verseker dat leerders toegang tot kwaliteitonderwys het.
Hierdie vorm van regulering verleen geloofbaarheid aan tuisonderrig as 'n alternatiewe vorm van onderrig en kan help om 'n oplossing te bied vir baie van die uitdagings wat die onderwyssektor ervaar, soos oorvol skole, infrastruktuur wat te kort skiet en die beskikbaarheid van gekwalifiseerde onderwysers, sê Impaq.
Onderwyskenner, Jannie van der Westhuizen.
* Bela - Basic Education Laws Amendment Bill
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’