GEORGE NUUS - Sy pa se laaste wens kon nie uitgevoer word om in die Erfenisgebied by Pacaltsdorp begrawe te word nie, maar hulle kon nie langer wag nie en hy is toe Saterdag in die begraafplaas in Yorkstraat begrawe.
Só het Jerobeam Lotriet, seun van wyle Jacob Johannes Lotriet, (58) 'n kulturele en tradisionele leier en hoofman in die Xam Ke!Royal House of Traditional and Cultural Council die week gesê.
Lotriet is reeds op 23 Augustus aan natuurlike oorsake oorlede en kon nie in die Erfenisgebied begrawe word omdat die familie nie toestemming kon kry nie.
Wyle kapt. Dikkop, 'n Khoikhoi-leier is reeds daar begrawe en onlangs is 'n ander Khoisan-leier, wyle stamhoof Japie Theron Baartman, ook daar begrawe.
Kort na Lotriet se dood het sy familie al die wettige kanale gevolg, maar kon nie toestemming kry nie. Dit het verlede week ook bekend geword dat die munisipaliteit ondersoek doen oor hoe "toestemming" verleen is vir 'n vorige begrafnis op die grond ter sprake.
Jerobeam het Maandag aan die George Herald gesê die familie wag nou dat die ondersoek afgehandel word.
Dit was 'n tradisionele begrafnis en is deur tussen 300 en 400 mense bygewoon.
Jerobeam Lotriet, seun van wyle Jacob Johannes Lotriet.
Volgens hom is die aangeleentheid spanningsvol vir die familie veral vir sy ma, Margie en sy suster, Cheryl-Anne. "Hulle was baie na aan my pa en sukkel om dit te hanteer.
"Dit was ook nie vir my maklik nie. Ons is vir byna twee weke van bakboord na stuurboord gestuur. Ons wil hê die ondersoek moet afgehandel word sodat daar duidelikheid kan kom."
Hy het benadruk dit gaan nie net oor sy pa nie. Dit gaan oor 'n beginsel. "Daar moet duidelikheid wees oor 'n plek wat ons vir ons leiers kan eien."
Volgens hom gaan dit oor toekomstige begrafnisse van tradisionele leiers. "Dit is nie 'n ligte aangeleentheid nie en lê swaar op ons harte.
Hy het namens die familie vir Virgill Gericke, 'n stadsraadslid, bedank vir sy hulp in die aangeleentheid.
Gericke het by navraag bevestig hy van voorneme is om die aangeleentheid na die Menseregtekommissie te verwys. Dit gaan daaroor dat weiering plaasgevind het om 'n spesifieke plek vir 'n begrafnis oop te stel. Hy het daarop gewys dat 'n presedent reeds geskep is.
Gericke gaan ook in verbinding tree met die Wes-Kaapse Erfenisraad om vas te stel of enige reëls/regulasies oortree is met die oopstel van 'n begrafnis op 'n Erfenisterrein.
Hy het 'n beroep op die munisipaliteit gedoen om die regte van inheemse volk te respekteer en grond beskikbaar te stel vir hul begrafnisse en gebruike.
Dr. Natie de Swardt van die Wes-Kaapse Erfenisraad, het by navraag gesê mense is welkom om sulke aangeleenthede onder die aandag van die hoof- uitvoerende beampte te bring vir uitklaring.
Die George-munisipaliteit het reeds by monde van 'n munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, gesê daar is sekere vereistes wat nagekom moet word voordat iemand op 'n sekere plek begrawe kan word. In terme van die voorskrifte was die vorige ter aarde bestelling daar onwettig.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'