GEORGE NUUS - "Pippie, Pippieee, kom, kom hier liefie!" roep Johan Yssel. En hier kom sy aan, 'n kleine bokkie op kierietjiebeentjies met stertjie wat heen en weer swiep, tydsaam, tot reg by ons. Sy ignoreer eers vir Johan, haar aangenome 'pa', en kom snuffel nuuskierig aan my soos 'n wafferse hond. Haar groot, donker oë en die ore wat nog te groot is vir die fyn lyfie is reg in my gesig toe ek op die gras gaan sit. Ek's totaal oorrompel.
Dié twee en 'n half maande oue springbokkie sou waarskynlik nie vandag sorgeloos in 'n groot kamp in Wildernesshoogte rondgehop en wei het as dit nie was vir Johan se weeksagte hart vir diere nie. Hy het talle wilde diere al gerehabiliteer en toe dié pasgebore ooitjie met lam agterbene in 'n krat by Kaapse Natuurbewaring beland, het hulle geweet om op sy nommer te druk.
Pippie het op 13 Augustus op Oubaai haar opwagting gemaak en die prognose was dat sy feitlik geen kans op oorlewing het nie.
"Haar linkeragtervoetjie was 'n horrelvoet wat in die ma vasgehaak het. 'n Veearts moes die ma met 'n verdoofgeweer skiet sodat hy met die geboorte kon help. Daarna het Oubaai haar na die DBV geneem wat Natuurbewaring gekontak het," vertel Johan.
Sy kon glad nie loop nie. Johan het albei agterbene met stokkies gespalk. Later was net die een been in spalke. "Dit het drie weke gevat om die horrelvoet bietjie vir bietjie reguit te kry. Fienie, my vrou, het vir haar 'n hangverband gemaak van 'n ou handdoek waarin ons haar laat oefen het om te loop."
Pippie knus in 'n handdoek toegemaak terwyl sy aansterk.
Pippie het vir twee maande langs hul bed geslaap, en soms ook by hulle in die bed. Later het sy sommer self op die bed gespring.
Johan het haar geleidelik van week twee af aan sy ander springbokke bekendgestel. Sy bly nou al vir meer as 'n week permanent by hulle. Sy is nie dadelik aanvaar nie, nie sonder 'n skop op die boud van 'n volwasse ooi nie, maar twee bababokkies in die trop het met haar maats gemaak saam met wie sy nou rondkerjakker.
Pippie se versorging is 'n 24 uur werk. Sy kry steeds elke vyf uur beesmelk gemeng met eiergeel, ook snags wanneer Johan in sy bakkie klim en na die kamp toe moet ry waar die bokke loop.
"Pippie is baie liefdevol en sy hou van aanraking. Sy het tot onlangs nog op die bank by my gelê as ek TV kyk en dan moet ek haar maag krap. Sy was soos 'n kind in die huis. Dis baie moeilik om haar daar in die veld te los," sê Johan.
Pippie kon nie op haar eie loop nie.
Oubaai wildlewekundige was nie beskikbaar
Willem Marx, Oubaai se landgoedbestuurder, het by navraag gesê as 'n reël maak hul wildlewekundige klein bokkies groot wat deur die ma verwerp word, maar Pippie was "skaars lewendig" met geboorte en haar ma het haar boonop verwerp. Die wildlewekundige was ook nie op daardie stadium beskikbaar nie.
"Die besluit is gemaak om die natuur sy loop te laat neem. Omdat ons baie rooikatte in die area het, het ons tegniese bestuurder besluit om die bokkie 'n laaste kans te gee en dit na die DBV geneem vir kundige hulp. Kaapse Natuurbewaring het ons later toestemming gevra om die bokkie aan 'n derde party oor te dra wat die kundigheid het om te help.
"Ons het gedink die bokkie het dit nie gemaak nie en dit was 'n groot verrassing toe ons 'n oproep van mnr. Yssel ontvang om ons in te lig dat sy wel lewe. Ons moet hom komplimenteer vir al sy tyd en moeite, terwyl hy geweet het dat die bokkie 'n skraal kans op oorlewing gehad het."
Johan het stokkies gebruik om Pippie se bene te spalk. Hy sê mense moenie sommer rehabilitasie van 'n dier aanpak sonder kundige hulp nie. Dit verg toewyding, kennis en is geweldig duur.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'