TUINROETE NUUS - Die polisie glo dat met die hulp van die publiek, meer inligting ingesamel sal word rondom die omstandighede van 'n voorval waartydens 'n baba se lykie op Dinsdag 13 September in 'n koelsak op die strand in Hartenbos gevind is.
'n Strandganger het op die gruvonds om ongeveer 10:00 afgekom en die polisie gekontak.
Met Mossel Bay Advertiser se aankoms op die toneel het die koelsak en 'n pienk lap verlate op die strand aan die westekant die rivierloop gelê. Die baba was in 'n pienk lap toegedraai, waarna die liggaam ook met 'n Pick n Pay-inkopiesak en 'n swartsak toegedraai is.
Die koelsak waarin die baba gevind is, is nie 'n algemene kleur nie en het kleurvolle patrone.
"Ons vra die publiek se hulp om na vore te kom indien enigeen die pienk lap of die kleurvolle koelsak herken. Enigeen met inligting oor iemand wat onlangs geboorte geskenk het en skielik nie meer 'n baba het nie, kan die ondersoekspan help," sê die polisie-kommunikasiebeampte, ao. Kappie Kapp.
Forensiese beamptes, Kenwyn Barnardo en Nathan Moolman, het die liggaam in plastiek toegedraai voordat die oorskot in 'n drasak van die toneel verwyder is.
Die geslag van die baba was nie teen druktyd bekend nie. Die polisie skat die ouderdom van die baba drie maande of jonger, maar die presiese ouderdom kon nie bevestig word nie.
Die forensiese beamptes, Kenwyn Barnardo en Nathan Moolman, het die liggaam in 'n babadrasak van die toneel verwyder.
Enigeen met inligting kan die ondersoekbeampte in die saak ao. Marizaan du Plessis van die Da Gamaskop-polisiestasie kontak by 079 879 9003.
Die liggaam van die baba was in hierdie pienk lap toegedraai.
Enige persoon wat hierdie koelsak herken, word versoek om die ondersoekbeampte in die saak te kontak.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'