GEORGE NUUS - Moet nooit ophou soek as jou hond wegraak nie. Dit is die advies van Ashwin Louw van Pacaltsdorp wat Saterdag 2 September met sy geliefde hond Blake herenig is, nadat hy agt maande gelede weggeraak het.
Die verblydende hereniging is moontlik gemaak deur die toegewydheid van die dierewelsynsorganisasie, Oudtshoorn Dogs in Need (Odin), en Louw se eie volgehoue soektog.
Louw en Blake, 'n Amerikaanse veghond (pit bull) kom al 'n lang pad en het 'n hegte band. Hy het Blake meer as twee jaar gelede as 'n jong hondjie by mense gekoop. In 'n stadium het hy ook drie ander honde gehad, maar het hulle intussen weggegee.
Toe hy Blake gekoop het, was hy so klein hy het in 'n bad geslaap. Hy het hom Blake genoem na 'n karakter wat hy in 'n rolprent gesien het. "Ek het baie lief geword vir hom. Hy is baie vriendelik."
So agt maande gelede het hy na 'n winkel gegaan om iets te koop en het Blake aan 'n leiband saamgeneem. By die winkel het hy hom buite aan sy leiband vasgemaak, maar toe hy uitkom was Blake weg. "Ek het gewonder waar hy is. Hy kon nie losgekom het nie, want hy was aan 'n leiband. Iemand moes hom losgemaak het."
Louw het in die omgewing begin soek, maar kon nie vir Blake vind nie. "Ek het aanhou soek want ek het geweet hy moes iewers wees. Ek was baie bekommerd oor hom."
Blake ontvang iets te ete van Odin se mense. Foto: Eugene Gunning
Hy het sosiale media oor honde dopgehou. Toe hy vroeg verlede Maandagoggend, 28 Augustus, na Odin se Facebook-blad kyk het hy Blake gesien.
Dit het later geblyk dat Marlene Mennie van Odin na 'n ander hond in Blanco gaan kyk het. Sy het toe op Blake afgekom en ’n foto van hom op Odin se Facebook-blad geplaas. Louw het kommentaar gelewer op die plasing en gesê dis sy hond.
Odin het gevra dat hy fotobewyse moes stuur. Die bal was toe aan die rol om Blake terug te kry. Hy het daarna 'n klag van diefstal by die polisie gaan lê want die hond kon nie net verwyder word nie.
Saterdag 2 September is hy toe saam met Marlene waar Blake in Blanco was. Die polisie is ook saam.
"Blake het my onmiddellik herken. Hy het in die rondte gespring en was uitgehonger. Ek is baie bly dat hy terug is. Elke dag is ek by hom. Ek pas hom op en sluit hom nou veilig toe as ek uitgaan."
Volgens Blake moet mense nooit tou opgooi nie en aanhou soek as so-iets gebeur en ook die sosiale media blaaie van dierewelsynsorganisasies dophou.
Marlene het gesê die regte prosedures moes gevolg word. "Odin is bly ons kon help. Ons help graag enige diere in nood en mense wat hulp nodig het met hul diere."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’