Update
GEORGE NUUS - Een persoon, Sixabiso Klip, wat in verband met die Preston Titus-moord in hegtenis geneem is, het reeds skuldig gepleit en is gevonnis.
Liezl van Niekerk van die Oudthoorn Courant berig drie ander persone, Justice Mooi, Natasha Stuurman en Magdaleen Titus, is ook in hegtenis geneem en is tans in aanhouding terwyl hul wag dat hul borgtogaansoeke afgehandel word.
Twee ander verdagtes word deur die polisie gesoek.
Mooi is verlede jaar saam met Klip in hegtenis geneem terwyl Magdaleen Titus, vrou van Preston en ANC-raadslid in Oudtshoorn, Vrydag saam met Stuurman in hegtenis geneem is.
Sixabiso Klip reeds gevonnis
Klip is verlede Vrydag tot 15 jaar gevangenisstraf in die Oudtshoorn-streekhof gevonnis.
Hy het op aanklag van moord en die besit van 'n gevaarlike wapen tereggestaan.
Klip het met die aanloop van die hofverrigtinge aangedui dat hy sy borgtogaansoek laat vaar en dat hy op beide aanklagte teen hom skuldig gaan pleit.
'n Pleitooreenkoms is tussen hom en die staat aangegaan en daar is ook in die hof genoem dat hy nou 'n staatsgetuie is.
Adv. John Ryneveld, wat deur die nasionale vervolgingsgesag aangestel is om vir die staat op te tree, het Klip se pleitverduideliking in die hof voorgelees.
Volgens dié verduideliking het Klip en Titus mekaar deur 'n vriend van Klip met wie Titus glo in verhouding was, leer ken.
Preston Titus
Hulle het vriende geraak en omdat hy werkloos was het sy hom as haar persoonlike drywer aangestel.
Klip het verduidelik dat hy in November verlede jaar saam met Titus en Masimthembe January (MJ) na Port Elizabeth gereis het waar hulle vir Justice Mooi ontmoet het.
Volgens Klip het Titus na 'n gesprek met Mooi aan Klip gesê dat sy met Mooi gepraat het om 'n moord op haar man te beplan.
Verder in die pleitverduideliking sê Klip dat hy op 29 November vir Titus na Stuurman, 'n goeie vriendin van Titus, se huis geneem het.
Hier het sy 'n telefoongesprek gehad en vir Klip gesê hy moet haar vergesel om iemand by die begraafplaas te gaan oplaai.
Die persone wat volgens Klip opgelaai is, was Justice Mooi en 'n man slegs bekend as Vusumsi.
Volgens klip se pleitverduideliking het hulle die twee mans gaan wys waar Titus se huis is.
Titus het glo vir die mans gevra waar die vuurwapens is waarvoor sy geld gestuur het.
Vusumsi het gesê dat hulle messe en remolie gebring het aangesien hulle nie vuurwapens kon kry nie en dat Titus 'n hamer ook moet kry.
Klip het die hamer by 'n vriend gaan leen.
Klip, Titus, Vusumsi en Mooi is terug na Stuurman se huis. Uit die verduideliking blyk dit ook dat Titus vir Mooi en Vusumsi R30 000 betaal het.
Sy het aan Klip belowe dat hy 'n Kersfees-bonus sal kry as hy die beskuldigdes rondry aangesien hulle nie Oudtshoorn ken nie.
Preston met derde poging doodgemaak
Voor die moord op 1 Desember was daar glo twee pogings om Preston by sy huis dood te maak. Die eerste poging was op 30 November.
Klip het Mooi en Vusumsi na Titus se woning geneem na sy laat weet het sy en die kinders is nie meer in die huis nie en dat hulle maar met die planne kon voortgaan.
Die beskuldigdes het egter besluit om die plan te laat vaar omdat twee van Preston se vriende in die huis was. Die volgende poging was die oggend van 1 Desember.
Titus en die kinders het weereens die huis verlaat waarna die beskuldigdes Preston in sy woning ontmoet het.
Magdaleen Titus word deur ao. Martin le Roux, die ondersoekbeampte, na die polisieselle vergesel. Foto's: Liezl van Niekerk
Hulle het gesê dat hulle apostels van Port Elizabeth is en die drie van hulle het gesels.
Hulle het egter weer nie die moord gepleeg nie omdat die beskuldigdes Preston se bure in die tuin gesien het. Preston is uiteindelik die nag van 1 Desember vermoor.
Volgens Klip het hy pepersproei en slaappille vir Titus gaan koop.
Die slaappille het sy vermoedelik gebruik om haar jongste dogter sowel as Preston te bedwelm.
Die beskuldigdes het Preston gedood deur hom, volgens getuienis in die hof, minstens 27 keer met 'n mes te steek en herhaaldelik met 'n hamer te kap.
Titus het ook die tablette, juwele en selfone wat uit die huis verdwyn het aan die beskuldigdes gegee sodat dit na 'n inbraak moet lyk.
Titus het ook glo die kombuisdeur vir hulle oopgemaak sodat hulle toegang tot die huis kon kry.
Volgens Klip is hulle na die moord na Mosselbaai en Vusumsi het onderweg iets langs die pad weggegooi.
Hulle is daarna George toe waar Klip die twee ander mans by die Gateway Lodge afgelaai het.
Klip is terug na Oudtshoorn. Titus het op Sondag 3 Desember vir Klip gebel en gevra dat hy met die ander mans moet reël om van die selfone ontslae te raak omdat die polisie dit gaan naspoor.
Klip is uiteindelik Woensdag 6 November in hegtenis geneem. Mooi is op 12 Desember aangekeer.
Die artikels wat langs die Mosselbaaipad weggegooi is, is na die arrestasies deur die polisie gevind en blyk twee messe, 'n hamer en 'n bebloede kledingstuk te wees.
Justice Mooi se borgtogaansoek
Mooi het verlede Vrydag vir 'n borgtogaansoek in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn.
Volgens Ryneveld het Mooi kort na sy arrestasie 'n bekentenis afgelê wat op video opgeneem is, en het die staat 'n geweldige sterk saak teen hom.
Die landdros het egter sy aansoek na Maandag 29 Desember uitgestel.
Magdaleen Titus en Natasha Stuurman in hegtenis
Na aanleiding van die bekentenis wat Klip afgelê het, het die polisie twee lasbriewe gekry om Titus en Stuurman in hegtenis te neem.
Stuurman is Vrydagoggend in Oudtshoorn in hegtenis geneem terwyl Titus later die middag in Barrydale aangekeer is nadat sy vermoedelik op die vlug geslaan het en op pad was Worcester toe.
Dié twee het Maandag hulle eerste verskyning in die hof gehad waar die landdros die saak na Maandag 29 Desember vir 'n formele borgtogaansoek uitgestel het.
Ryneveld het aangedui dat die staat die aansoek gaan teenstaan.
Lees 'n vorige artikel: Verdagte in weermagmoord gevonnis
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'