GEORGE NUUS - Op die oog af het die terugkeer van leerlinge op Maandag 26 Julie na die skoolbanke seepglad verloop. As gevolg van streng Covid-19-regulasies kon almal nie gelyk terugkeer om die normale rooster te volg nie.
By baie skole het klasse steeds op 'n rotasiesbasis plaasgevind.
Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het by navraag gesê die begin van kwartaal drie het sonder probleme in George en omliggende gebiede verloop.
Die skole het volgens hulle aangepaste roosters geopen. Die bywoning van die leerders was ook normaal volgens die aangepaste rooster. Baie van die skole voltooi hierdie week hulle assesseringsprogramme wat as gevolg van die vroeër sluiting van die skole nie verlede kwartaal voltooi is nie.
Gerhard Ackerman, hoof van die Laerskool Blanco, het gesê daar was goeie bywoning by die skool. Leerlinge woon klasse op 'n rotasiebasis by behalwe vir voorskoolse en gr. 7-leerders wat elke skooldag klasse bywoon.
Die skool sal nie op 2 Augustus na die gewone skoolrooster terugkeer nie. Die rotasiebasis sal steeds toegepas word. Die regulasies vereis dat een meter afstand tussen leerlinge gehandhaaf moet word en die spasie in klaskamers is te min. Al die leerlinge sal vir die normale skoolrooster terugkeer sodra die een meter spasie vereiste opgehef is.
Niel Plaatjies, waarnemende adjunkhoof van Heidedal Primêr, het gesê klasse vind steeds op 'n rotasiebasis plaas. Die skool het reeds aansoek gedoen om daarmee voort te gaan.
Volgens hom het nie al die leerlinge Maandag opgedaag nie. Dit is waarskynlik omdat daar Covid-19 by sommige van die families is. "Ons het aanbeveel dat as daar Covid in 'n familie is die ouers eerder die kinders tuis hou."
Christo Vorster, hoof van Hoërskool Outeniqua, het gesê die vereiste regulasies word nagekom. Die skool handel nou sy eksamens af en die leerlinge het opgedaag vir die eksamen.
Sas du Plessis, hoof van Laerskool George-Suid het ook gesê leerlinge is steeds op 'n roterende basis.
Gerhard Ackerman
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'