GEORGE NUUS - Die Janse van Rensburg-paartjie het net goeie herinneringe aan Alfie se 33 jaar by BMW in George en dat Alfie sedert hy 18 jaar oud was, getroud was aan 'n motor, of so grap sy vrou Miriam.
Miriam meen die jare se werk aan BWM's, kursus na kursus, nagte op die pad selfs oor groot vakansies, het hom die man gemaak wat sy vandag ken en lief het. Alfie is onlangs geforseer om af te tree na sy gesondheid daaronder begin ly het, anders sou hulle hom seker nooit daar weggekry het nie.
So tans geniet hy sy permanente verlof, al voel dit nog soos vakansie, sê hy.
Die twee kan vir jou lekker stories vertel van hul jong dae voor die kinders gekom het toe Miriam saam met Alfie in die nag uit is om bestuurders te gaan help wie se motors gaan staan het.
Hulle het net goeie herinneringe van Alfie se dae by BMW, hoe dit verander het van die dae van Boet Troskie tot vandag, tot die lekker familieverhoudings wat tussen die werkers is.
So verlede jaar met die begin van Covid, moes Alfie wat 'n diabeet is, aandag gee aan sy gesondheid, maar die kwessie met sy bene het eintlik jare gelede al begin.
Hulle vertel Alfie is deur 'n spinnekop gebyt, en die gif het blykbaar in sy bloedstroom gebly, tot dit probleme begin veroorsaak het in sy bene.
Alfie Janse van Rensburg en sy vrou Miriam.
So is hy finaal medies ongeskik verklaar na menige doktersverslae en een toets na die ander gedoen het.
Alfie se dogter, Chantel, wou iets spesiaal vir haar pa na sy aftrede doen en het George Herald genader. Sy meen daar moet darem ordentlik koebaai gesê word na 33 jaar se aaneenlopende diens.
Ook Alfie self wou darem net dankie sê aan al die kliënte wat altyd teruggekom het en net met hom wou praat en mense met wie hy oor die jare saamgewerk het, nie net hier in George nie, maar landwyd.
Hy meen sy brein is nog wakker met kennis van die nuutste tot die ou klassieke BMW's, al wil sy bene nie meer aldag saam werk nie.
Alfie braai hier vir sy afskeidspartytjie se ete.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'