GEORGE NUUS - Danksy vinnige optrede is daar verhoed dat die ou tolhuis in die Montagupas, verlede Dinsdag, 4 April, weer afbrand.
Was dit nie dat Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, daar 'n afspraak met die bekende akteur, Ivan Zimmerman moes nakom nie, het die geskiedkundige gebou waarskynlik heeltemal afgebrand. Stols beskryf dit as genade van Bo.
Die tolhuis is een van George se geskiedkundigste geboue en is reeds in 1845 gebou. Die Cradock-roete is reeds in 1812 gebou. Groot skade is in 2018 by die tolhuis aangerig deur die destydse verwoestende brande in die omgewing.
Stols het vroeër die week vertel dat sy verlede Dinsdag om 15:00 'n afspraak met Zimmerman en Eon Coetzee moes nakom. Hulle is besig met opnames in die gebied vir All things Garden Route. Zimmerman is die vervaardiger en Coetzee, die medevervaardiger.
Sy het omstreeks 14:50 by die
tolhuis opgedaag. Met haar aankoms het sy onmiddellik iets vreemds geruik. Toe sy opkyk na die dak, het sy rook sien uitborrel. "Ek het baie groot geskrik en het probeer om die hek oop te kry. Ek het gesukkel en het begin bewe."
Intussen het Zimmer-man en Coetzee opge-daag. Hulle het haar kalmeer en dadelik aan die werk gespring.
Uiteindelik het hulle daarin geslaag om die hek en die deur oop te kry. Zimmerman en Coetzee het in baie gevaarlike omstandighede in die tolhuis inbeweeg waar swaar rookwolke reeds gehang het. Hulle het gepoog om die brand te blus, die vensters oopgemaak en die meubels weggeskuif.
Stols het die brandweer ontbied en dié was binne 'n paar minute op die toneel. Dit blyk toe dat 'n battery, wat gebruik word om elektrisiteit te voorsien, die oorsaak van die brand was. Die battery is verwyder waar dit skade aan die vloer aangerig het.
Stols het net lof vir Zimmerman, Coetzee en die brandweer gehad. "Hierdie kon 'n groot ramp gewees het. As ek nie die middag die afspraak nagekom het nie sou die plek waarskynlik afgebrand het. 'n Elektrisiën wat later kom ondersoek instel het sê as ons 30 minute later hier was sou die vloer aan die brand geslaan het en dan het die tolhuis afgebrand."
Stols het almal bedank vir hulle hulp. Van die items in die tolhuis is onvervangbaar.
Zimmerman het Dinsdag gesê hy het 'n groot passie vir die tolhuis. Sy oupa het jare gelede as 'n polisieman die Montagupas gepatroleer. Toe hy verlede Dinsdag daar aankom het hy rook gesien. Hy was nie paniekerig nie en het kopgehou. Coetzee het agter ingegaan en hy is voor in met 'n brandblusser. Hy het sy T-hemp om sy gesig gedraai om hom teen die gasse en rookwalms te beskerm. Hy sukkel nou nog met sy longe na die rook wat hy ingeasem het. Later het hy gehoor die gasse wat so 'n battery afgee, is baie gevaarlik.
Binne die tolhuis waar die brand ontstaan het.
Die brandweer op die toneel.
Die beskadigde vloer waar die battery gestaan het. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’