Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die AHi Wes-Kaap gaan sy eie pad loop en voortaan nie meer deelneem aan gesprekke met die Small Business Institute (SBI) nie.
Die organisasie het tydens 'n direksievergadering besluit om nou heeltemal onafhanklik te funksioneer. Dit is deur dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, by navraag bevestig. Die instansie se hoofkantoor is in George.
Die jongste verwikkelinge het 'n lang aanloop en gee 'n sterk aanduiding van die AHi Wes-Kaap se toekomsrigting.
Die organisasie, wat voorheen landswyd bekend was as Afrikaanse Handelsinstituut (AHI), is in Oktober 2017 omvorm na die SBI.
In November 2017 het die AHi Wes-Kaap besluit om 'n onafhanklike maatskappy te vorm. Die AHi Wes-Kaap was nie geaffilieer by die SBI nie, maar gesprekke tussen die twee instansies is voortgesit sodat bepaal kon word waar hulle in belang van klein sakeondernemings kon saamwerk. Na verneem word was dit nie altyd maklik nie. Formele gesprekke het in Maart 2018 in Johannesburg en in Oktober 2018 in Kaapstad plaasgevind.
Volgens Cilliers is die aangeleentheid tydens 'n direksievergadering op 6 Februarie in Kaapstad op die spits gedryf.
"Ons het volledig besin oor die situasie van die AHi Wes-Kaap. Tydens die vergadering het die AHi Wes-Kaap sy onafhanklikheid herbevestig. Die direksie het tot die besef gekom dat die fokus areas van die AHi Wes-Kaap en die SBI totaal verskil.
"Ons het besluit om 'n skrywe aan die SBI se direksie te rig dat die AHi Wes-Kaap voortaan onafhanklik sal funksioneer en nie meer sal deelneem aan gesprekke met die SBI nie.
"Die AHi Wes-Kaap se jongste besluit is in ooreenstemming met 'n besluit wat die destydse AHi in 1942 geneem het om op te tree in belang van klein sakeondernemings."
Cilliers het benadruk die AHi Wes-Kaap besef die belangrikheid van die SBI om die nasionale regering te probeer beïnvloed oor klein sake aangeleenthede. Die AHi Wes-Kaap is egter betrokke by pogings om klein sakeondernemings te help skep op grondvlak. Voorts vir die uitbouing van bestaande klein sakeondernemings en veral die skepping van werksgeleenthede.
Die AHi Wes-Kaap sal voortgaan met sy programme en inklusief optree - ongeag ras.
Kyk 'n video hieronder.
Die organisasie het geld van die Belgiese regering ontvang vir sy werksaamhede tot Desember 2018. "Ons is in gesprekke vir die voortsetting daarvan."
Sukses is reeds behaal in 2018 en opleiding is verskaf aan 300 klein sakeondernemings in die Wes-Kaap. Dit strek van plekke soos Vredendal tot Plettenbergbaai. Mentorskappe en steun aan klein sakeondernemings word steeds verskaf.
Winda Austin-Loeve van die SBI het gesê die organisasie het kennis geneem van die AHi Wes-Kaap se besluit. Volgens haar is daar nog gesprekke aan die gang. Die SBI wil graag enige sakeorganisasie by hom hê.
"Die SBI glo aan inklusiewe ekonomiese groei, transformasie en etiese leierskap."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'