GEORGE NUUS - Aftree-oorde sit koppe bymekaar oor die gebruik van hernieubare energie sodat elektrisiteitsvoorsiening op 'n vlak van effektiwiteit kan voortgaan.
Dit is een van die prioriteite van die nuwe bestuur van Baask (Belangegroep vir Aftree-oorde en aanverwante instansies in die Suid-Kaap) wat onlangs verkies is.
Die doel van Baask is om as 'n gemeenskaplike spreekbuis vir aftreegeriewe en -oorde in die Suid-Kaap te dien. Voorts dien hulle as 'n belangegroep.
Baask verteenwoordig sowat 50 sulke instansies in die streek wat strek van Plettenbergbaai in die ooste tot by Stilbaai in die weste en Beaufort-Wes in die noorde. Die organisasie bestaan reeds sedert 2009.
Uit gesprekke met die lede van die nuwe bestuur oor die pad vorentoe blyk dit dat hulle deeglik bewus is van die talle uitdagings, waaronder beurtkrag, wat die afgelope paar maande erg toegeneem het.
Die ekonomie is ook onder druk. Bejaardes se aftreegeld is onder druk en inflasie plaas meer druk daarop. Werkloosheid neem toe en dit gebeur dat bejaardes aan hul eie lot oorgelaat word. Die hulp en bronne van die staat raak al hoe minder.
Christo Steyn, die nuwe voorsitter bygestaan deur Alani Voigt, 'n bestuurslid, het gesê effektiewe elektrisiteitsvoorsiening is in die stadium 'n groot uitdaging. Die kostes van elektrisiteit is ook 'n uitdaging.
Van die instansies is reeds onder druk en die kragsituasie plaas verdere druk op hul finansies.
Van die instansies het versorgingsafdelings en effektiewe elektrisiteitsvoorsiening is onontbeerlik.
Finansiële ondersteuning en beplanning is baie belangrik. Baask kyk nou as groep hoe met planne en voorstelle in die verband na vore gekom kan word. Hulle kan bymekaar leer.
Van links: Charl Collins (Groenkloof, George), Shannon Hammond (Millennium Mosselbaai), dr. Gerrit Theron (Hartenrus), Gert Meiring (Huis Elsje, Mosselbaai), Christo Steyn (Blue Mountain George), Maria Griessel (Groenkloof, Groot-Brak), Francisca Vorster (Blue Mountain, George) en Alani Voigt (Tuiniqua, George)
Volgens hulle word aftreegeriewe toenemend belangrik. Die Suid-Kaap is 'n gewilde aftreebestemming en op plekke soos George, Mosselbaai en Oudtshoorn word baie nuwe geriewe gevestig.
Mense word ook ouer. Wanneer hulle die dag aftree het hulle nie noodwendig versorging nodig nie. Dit word eers later 'n uitdaging. Hulle tree op 65 jaar af en eers 15 jaar later benodig hul versorging.
In die moderne tyd is mense geneig ook na sulke oorde te gaan waar veiligheid is. Die ontvolking van die platteland as gevolg van misdaad en mediese sorg speel 'n rol in die gewildheid daarvan.
By dit alles is Suid-Afrika een van die lande waar baie jong volwassenes die land verlaat as gevolg van beroepsredes. Hul bejaarde ouers bly agter en hulle kan nie na hul omsien nie.
Baask se advies aan mense is om reeds op 'n vroeë ouderdom te begin met aftreebeplanning. Die nuwe bestuur gaan hom ook beywer vir dienslewering en uitreik na mense in die minderbevoorregte groepe. Die plan is om kennis te deel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'