GEORGE NUUS - Die polisie kan nie alleen misdaad oplos nie en die gemeenskap moet betrokke raak.
Dit was die boodskap van adv. Lennit Max, raadgewer van genl. Bheki Cele, minister van polisie, toe hy Donderdagaand (20 September) ‘n gemeenskapsvergadering in Blanco toegespreek het.
Max is tydens die vergadering beskryf as iemand wat die oor van Cele het.
Senior polisielede, verteenwoordigers van buurtwagte, gemeenskapspolisiëringsforums, staatsdepartemente, lede van die George-stadsraad en gemeenskapsleiers het die koue trotseer om koppe bymekaar te sit oor die misdaadsituasie in Suid-Afrika en George.
Max, wat voorheen ‘n lang suksesvolle loopbaan in die polisie gehad het en daarna ook politikus was, het inwoners van George genooi om saam met die polisie hande te vat om aandag aan die misdaadprobleem te gee.
Hy het verwys na die jongste misdaadsyfers waaruit dit blyk dat daar elke dag 57 mense in Suid-Afrika vermoor word. Dit is slegs ‘n klein groep misdadigers wat die land se miljoene inwoners gyselaar hou. Die enigste wyse hoe om misdaad nek om te draai, is deur gemeenskapsbetrokkenheid.
Hy het benadruk misdaad is nie ‘n ANC-regering of Bkehi Cele se probleem nie. “Dis ons almal se probleem.”
Max het na die vergadering aan die George Herald gesê natuurlik sou hy graag meer mense by die vergadering wou gesien het. Daar moet egter onthou word dit is nog koud in die aande en hy is baie dankbaar vir die mense wat wel opgedaag het.
Inwoners van George het Donderdagaand tydens 'n gemeenskapsvergadering in Blanco vrae gestel en bors skoon gemaak oor dinge wat hulle pla in die polisie. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'