Gallery
GEORGE NUUS - Dit is nou reeds 'n paar weke dat leerders in sekere grade weer terug is by die skool. Onderwysers en leerders werk saam om die uitdagings van die "nuwe realiteit" onder Covid-19 regulasies die hoof te bied.
Pret met deurry om skoolboeke op te laai
Laerskool Denneoord het in die eerste week van Junie 'n deurry gehou om vir ouers die geleentheid te gee om hulle kinders se boeke te kom haal. Dennie die gelukbringer het kom kuier en het sy masker ook onthou!
Vir die onderwysers was dit lekker om bekende gesiggies te sien, al was dit net deur die motor se venster.
Fotogalery: Die skoolklokke lui weer
Dennie die gelukbringer het kom kuier en het sy masker ook onthou!
Outies laat Covid-skooldae glad verloop
Laerskool Outeniqua is baie trots op al die onderwysers en gr. 7-leerders wat puik by die Covid-19-riglyne hou en die skool in die ongewone omstandighede vlot laat verloop.
Sosiale afstand word gehandhaaf tydens pouse.
Wie sou ooit kon dink dat daar 'n dag sou kom dat kinders gesif moet word om bloot te mag skoolgaan!
Oakdale graad 12’s baan die pad vir hul broers
Alhoewel die 89 gr. 12-leerders van die Hoër Landbouskool Oakdale die eksklusiewe aandag van die personeel asook die uitsluitlike gebruik van al die fasiliteite geniet, sien hulle uit na die terugkeer van hulle medebroers van gr. 8 tot 11. Die groep het ook kort na die hervatting van skool 'n boodskap in eg Oakdale-tradisie aan die res van die skool oor sosiale media gestuur.
Daar is nou min tyd vir speel aangesien onderrig soggens en smiddae aangebied word. Die rugbyvelde is pragtig groen en die manne jeuk om die rugbyballe rond te gooi. Van dag een af oefen hulle reeds hard en hou hul fiksheid op standaard.
Die rugbyvelde is pragtig groen en die manne jeuk om die rugbyballe rond te gooi.
Oakdale-bulle geniet steeds hul paradys
Hoër Landbouskool Oakdale se matriekklas van 2020 kyk terug op ses maande van hul finale skooljaar wat vir elkeen groot belofte en hoogtepunte ingehou het. Die gr. 12-leerders het Maandag 1 Junie teruggekeer na hul tuiste en moes vinnig aanpas by die "nuwe normaal."
Die skoolhoof, André Latsky, is vol lof vir die matrieks se positiewe gesindheid en samewerking. "Ons seuns is gefokus en gee baie goeie samewerking in die klasse sowel as die koshuis. Ek is baie trots op hierdie jong manne wat nie hulself jammer kry nie en die uitdagings van Covid-19 aanvat en steeds met entoesiasme uitsien na hoogtepunte van hul skooljaar wat dalk mag realiseer."
Die matrieks het ook hul matriekbaadjies ontvang, wat verseker opgewondenheid gebring het!
Die gr. 12-leerders het Maandag 1 Junie teruggekeer na hul tuiste en moes vinnig aanpas by die "nuwe normaal".
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'