GEORGE NUUS - Om voltyds agter peuters en kleuters aan te draf, toets jou geduld en stamina. Daarom was die 6 Pieke FKT (Fastest Known Time)-uitdaging wat ses mammas van George onlangs aangepak het, seker soos 'n ontspanne Saterdaguitstappie.
Geen nat doeke, stemmetjies wat oor kos of speelgoed neul en kleuters wat kla dat hulle niks het om te doen nie.
Net ses pieke, met 'n totale hoogte bo seespieël van sowat 3 230 m, en oor 'n afstand van 45 km, wat op hulle gewag het.
Die ses ma's wat dié ses pieke aangepak het, was Charmaine Lamprecht, Annemarie Theron, Cornel O'Kennedy, Claudine du Plessis, Lodelia Odendaal en Nancy Cloete.
Die ondersteuningspersoneel het hulle na die "6 moms on the run" herdoop.
Die vroue het om 10:30 by Sputnic, die bekende kort radiotoring aan die bopunt van die Outeniquapas weggespring.
Toe volg Losberg (823 m), Cradock-piek (1 578 m), George-piek (1 337 m), Tierkop (778 m) en Groenkop (635 m).
Hulle het die eindpunt by Groenkop net na 21:30 die aand in stikdonkerte bereik met net kopliggies aan - 11 uur 4 minute 37 sekondes en 45 km later. Sopnat.
Oor die laaste twee seksies van die roete moes hulle deur beide die Swart- en die Kaaimansrivier swem, wat albei in daardie stadium sterk gevloei het.
Cornel O'Kennedy was aanvanklik in die groep van ses vroue wat die 6 Pieke FKT-uitdaging aangedurf het, maar sy het erge ongemak ervaar en kon ongelukkig nie klaarmaak nie. By haar is Gert Cloete, wat 'n rukkie saam met die groep vroue gehardloop en haar ondersteun het tot by die kruis waar die atlete ekstra water en kos kon kry.
Die roeteleiers en pasaangeërs was Robin Pick, Neel Breitenbach en Gert Cloete en in die ondersteuningspan was Attie Bedeker, Jacques Mouton en Johann Schwarz.
Die mamma's wat die roete moes afdraf, stap, kruip en swem was dit egter almal eens: kinderspeletjies in vergelyking met die uitdagings by die huis.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'