GEORGE NUUS - Die waglys om 'n staatsdokter by Conville-kliniek te sien is glo vier tot vyf maande lank.
'n Sassa-begunstigde, Martin Maas (52), sê hy was onlangs by die Sassa-kantoor in George om sy aansoek om 'n ongeskiktheidstoelaag te laat hernu. Hier is hy ingelig dat hy eers weer deur 'n dokter geëvalueer moet word.
Maas is swakhorend en het obsessief-kompulsiewe gedragsversteuring.
Hy sê dit beteken hy kan, indien gelukkig, eers in Junie 'n dokter sien wat hom dan ongeskik moet verklaar. "Ek het geen ander inkomste nie, en moet nou grootliks op familie staatmaak om my aan die lewe te hou."
Maas sê hy het darem nog familie wat bereid is om hom te help.
"Wat van ander mense wat ook moet wag, en nie die opsie het om op familie se knoppies te druk en dan finansieel swaar trek?"
Hy wil egter die keuse hê, sê Maas, om sy eie lewe te lei en na homself om te sien.
Hy sê die ongeskiktheidstoelaag van R1 750 is nie baie nie, maar dis geld van sy eie.
Maas moes in 2016 ophou werk want sy OCD het hom verhoed om normaal te funksioneer by die werk.
"Ek het my werk verskeie kere nagegaan om seker te maak dis reg. Dit word erger sodra ek onder geweldige druk geplaas word."
Sassa Wes-Kaap antwoord
Shivani Wahab, die senior kommunikasie-bestuurder van Sassa Wes-Kaap, sê sy kan bevestig dat daar 'n tekort aan Sassa-dokters in George is wat die opeenhoping van afsprake veroorsaak.
"Ons kantoor in George ervaar op die oomblik 'n hoë aanvraag vir mediese evaluasie dienste en net 'n sekere aantal dokters is beskikbaar. Ons het aansoek gedoen vir addisionele befondsing van Sassa se hoofkantoor vir die aanstelling van meer dokters."
Wahab sê begunstigdes moet deur 'n dokter ongeskik verklaar word vir werk, of dit geestelik of liggaamlik is.
Sy sê mense met 'n permanente toelaag kan geëvalueer word om te bevestig of die persoon steeds ongeskik is.
Sulke mense mag nie ander toelae kry nie, mag nie in staats-gefinansierde fasiliteite woon nie, moet 'n mediese verslag indien wat hulle ongeskik verklaar en moet tussen 18 en 59 jaar oud wees.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'