GEORGE NUUS - Gedurende die afgelope week is 43 verdag-tes in hegtenis geneem ná 'n vlaag van geweld wat hoofsaaklik verband hou met dwelmmisbruik en gevaarlike wapens onder jongmense in die Pacaltsdorp-omgewing.
In een van dié voorvalle aan die begin van die maand, het 'n 17-jarige seun sy regterhand tydens 'n beweerde bende-verwante voorval verloor toe dit met 'n panga afgekap is.
Klagtes van geweld in Pacaltsdorp
In Pacaltsdorp kla die inwoners ook die afgelope tyd oor tieners wat met pangas in die strate rondbeweeg en 'n skrikbewind voer.
Onlangse klagtes sluit in 'n man van New Dawnpark wat op 18 September, omstreeks 20:00 na bewering in die nuwe uitbreiding van Rosedale deur 'n groep mans met pangas aangeval en van sy fiets en selfoon beroof is. Die slagoffer het ernstige kopwonde opgedoen.
'n Jong juffrou van 'n kleuterskool is op pad na haar werk deur 'n groepie met pangas van haar selfoon beroof, 'n vrou se hond is glo deur 'n groepie seuns wat in die straat geloop het met 'n panga gekap en in Delvillepark het 'n groep seuns blykbaar ook met pangas, kragdrade afgekap.
Misdade hou verband met dwelms
"Hierdie misdade wat verband hou met dwelmmisbruik en 'n onlangse vlaag van geweld onder jongmense, het die plaaslike polisiebestuur genoop om hul misdaadvoorkomingspogings binne hul gebied op te skerp," het Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, gesê.
Meeste van die verdagtes wat tydens die afgelope week se Operation Clean-up in hegtenis geneem is, het reeds in die hof verskyn op aanklagte wat wissel van die besit van dwelms tot die besit van gevaarlike wapens en die besit van vermoedelik gesteelde goedere.
"Dit is 'n geïntegreerde misdaadbestry-dingsoperasie wat bestaan uit verskillende polisie-eenhede met die fokus op misdaadge-teisterde woongebiede in Pacaltsdorp. Gebiede sluit in Edenpark, New Dawnpark en die nuwe woonbuurt bekend as Reigerpark," sê Pojie.
Gekonfiskeerde onwettige drank.
Tydens die operasie is 21 verdagtes vir die besit van onwettige dwelms - 10 vir Mandrax en 11 vir tik - in hegtenis geneem, terwyl een vasgetrek is vir onwettige handel in drank en drie vir die besit van gevaarlike wapens. Sewe is vir huisbraak en diefstal in hegtenis geneem en vier op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde goedere.
Een persoon is in hegtenis geneem op aanklag van seksuele aanranding en twee van die verdagtes was op die lys van gesoekte verdagtes.
'n Totaal van 73 vol en 43 halwe Mandrax-tablette, 12 bankies tik, een replika-vuurwapen, 'n tweerigtingverkeersradio, 'n skaal wat gebruik is vir die verspreiding en weeg van dwelms, asook drank, is by die verdagtes in beslag geneem.
Daar is ook beslag gelê op R11 036 kontant wat vermoedelik uit die opbrengs van onwettige handel in dwelms en drank kom. Teen druktyd was daar geen verdere inligting rakende hofverskynings wat verband hou met die bogenoemde arrestasies nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'