Video
GEORGE NUUS EN VIDEO'S - Daar was Dinsdagoggend groot opgewondenheid by NQtac Hotel School in Victoriastraat toe sop en brood in die gemeenskap uitgedeel is as deel van Mandeladag.
Die sop is deur studente van die instansie gemaak in samewerking met die George-sakekamer.
Maatskappye en instansies het 'n R100-donasie gemaak. Die sop en brood is toe deur maatskappye aan verdienstelike organisasies in die gemeenskap versprei.
Superspar Heather Park het verskeie brode en 'n groot deel van die groente, wat in die sop gebruik is, geskenk. Daar is reeds op 3 Julie begin om die sop te maak, waarna dit gevries is.
Mary Anne Losse van die George-sakekamer het gesê altesaam 1 000 liter sop is gemaak en dit is in 100 emmertjies verpak. Sowat 4 000 mense kon daardeur gevoed word. Van die emmertjies is Maandag reeds in Uniondale versprei.
Marco van Rooyen van NQtac het verteenwoordigers van die maatskappye wat emmertjies en brood geborg het rond gewys in onder meer die kombuis waar die sop gemaak is.
Een van die eerste instansies om emmertjies en brode op te tel was Daisy Business Solutions. Marcell de Ritter en van sy kollegas het namens die maatskappy 37 emmertjies en brode geborg en opgetel. Dit is deur die loop van die dag versprei. "Ons doen dit om terug te ploeg in die gemeenskap," het hy gesê.
Johannes Smit van NQtac, het gesê die instansie is baie dankbaar vir Superspar Heather Park. Sonder hulle sou die projek nie moontlik gewees het nie.
"Ons is oorweldig deur die reaksie van maatskappye. Daar is groot aanvraag en die George-gemeenskap is wonderlik."
Smit is die breinkind agter die projek.
Daniella Bester van Superspar Heather Park het gesê hulle is betrokke omdat hulle graag iets wil teruggee aan die gemeenskap.
Debbie Badenhorst van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het gesê die sop en brood word na Kretzenshoop Primêr geneem. Dit word daar warm gemaak en in die Blanco-gemeenskap versprei.
VIDEO - Marcell de Ritter van Daisy Business Solutions by DIE Mandeladag geleentheid. Video - Eugene Gunning:
VIDEO - Marco van Rooyen van NQtac tydens Mandeladag vieringe. Video - Eugene Gunning:
Altesame 500 koppies sop is aan Dirk Boshoff Primêr in Uniondale uitgedeel.
Personeel van Daisy Business Solutions met die brood en emmertjies sop. Foto: Eugene Gunning
Sop en brood is ook afgelewer deur die George-sakekamer en George Herald by Pacaltsdorp Crèche. Van links is Theresia Heynes (sjef), Linnie Korunna (hoof) en Loannel Breytenbach (George Herald).
Van die mense wat 'n groot rol in die projek gespeel het, is van links: Marco van Rooyen(NQtac), Francois Kipou (Superspar Heather Park), Christelle Nomdoe (Superspar Heather Park), Daniella Bester (Superspar Heather Park) en Johannes Smit (NQtac).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’